Tracey Lange, Margit Meyer-Rödenbeck en Ivaan Levendal by ‘n vorige Pioneer Rally.

Ná ses jaar van stilte het die nuus dat die adrenalienbelaaide Pioneer Rally weer vlerke, of eerder wiele, kry, soos ‘n veldbrand versprei en bekendes, navigators en borge het sonder huiwering weer hul steun agter hierdie geliefde inisiatief gesit.

Die tydren se suksesverhaal as prestige-byeenkoms in die Worcester-omgewing maak die Pionierskool vir Siggestremdes opgewonde en vanjaar se byeenkoms beloof om weer verwagtinge te oortref.

Siggestremde navigators, bekendes en ondernemings kom op Saterdag 25 Oktober weer vir hierdie buitengewone gebeurtenis – die Pioneer Rally-geldinsameling ten bate van die Pionierskool vir Siggestremdes – bymekaar. Hierdie unieke geleentheid is veel meer as net ‘n motor-tydren – dit is ‘n lewensveranderende ervaring.

Vanjaar se tydren sien weer bekendes uit die vermaaklikheid-, sport- en sakewereld agter die stuur, met ‘n blinde navigator aan hul sy, en hulle durf die pad aan van We Buy Cars in Richmond na Golden Valley Casino in Worcester – maar met ‘n kinkel in die kabel.

Die braille-roete en kontrolepunt-aanwysings, fyn beplan deur die wêreldbekende renjaer Sarel van der Merwe, word eers net voor hul wegspring aan die bestuurders en navigators oorhandig. Die bestuurders – volkome afhanklik van hul blinde navigators – word dan deur middel van die blinde navigator se Braille-aanwysings van beheerpunt tot beheerpunt gelei – alles teen die stophorlosie!

Wanneer die stof gaan lê en die enjins stil raak, sluit die dag se avonture af met glans en styl by ‘n galadinee by die ATKV- Goudini Spa. Die deftige byeenkoms se tafels is deur ondernemings van Worcester en omstreke geborg en gaste het die voorreg om ‘n bekende en ‘n blinde navigator aan tafel te hê.

Gaste sal bederf word met fynproewergeregte, komplimentêre wyn, topklas-vermaak en ‘n veiling.

Die wenspanne van die dag word dié aand ook onder luide toejuiging gekroon en met die geliefde Margit Meyer-Rödenbeck, Peter Mitchell en Wicus van der Merwe as seremoniemeesters, beloof die aand om ‘n groot dosis lag, stories en goeie samesyn op te dis.

Alle opbrengste wat deur die Pioneer Rally ingesamel word, sal aangewend word om Pionierskool vir Siggestremdes se gespesialiseerde en unieke dienste aan sig- en addisioneel gestremde leerders te finansier. Die navigators is almal huidige of oud-leerders van Pionierskool en hul bereidwilligheid en entoesiasme om jaar ná jaar aan die rally deel te neem, is ‘n bewys van die gehalte-onderrig wat Pionierskool bied en die sterk band tussen die leerders en hul alma mater.

Germant Geldenhuys
Die akteur Germant Geldenhuys saam met Robyn Walters (Pioneerskool-leerder), by ‘n vorige Rally-geleentheid. Foto’s: Johette Pople

“Hierdie is nie bloot ‘n geldinsameling nie,” sê Annelette Kemp, organiseerder van die geleentheid. “Dis ‘n geleentheid om die ongelooflike vaardighede van ons siggestremde leerders en oudleerders aan die wêreld ten toon te stel en almal vir ‘n dag deel te maak van hul lewe. Ons is opreg trots en dankbaar om die wiele met die Pioneer Rally weer aan die rol te hê.”

Die publiek en die Worcester-gemeenskap word hartlik uitgenooi om die deelnemers by die Golden Valley Casino-parkeergebied van 14:30 op Saterdag 25 Oktober te verwelkom.

Dit is ‘n gulde geleentheid om jou gunsteling-bekendes in aksie te sien en die ware sterre van die dag – die siggestremde navigators – te ondersteun en aan te moedig.

Van die bekendes na wie uitgesien kan word, is Elandré, Herman Lensing, Margit Meyer-Rödenbeck, Wicus van der Merwe, Pietman Geldenhuys, Waldimar Pelser, Whitey Basson, Shimmy Isaacs, Neels van Jaarsveld, Vanes-Marie du Toit, Johnny Davids en Deon Lotz, om maar net ‘n paar te noem!

• Vir enige verdere inligting, kontak asseblief Colleen Marais of Cathy Hugo by 023 342 2313 of stuur e-pos na marketing@pioneerschool.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article