Oude Kerk Volksmuseum in Tulbagh vier sy honderdste bestaansjaar.

Die Oude Kerk Volksmuseum in Tulbagh vier sy honderdste bestaansjaar in Augustus.

As een van die oudste museums in die Wes-Kaap is dié historiese gebou reeds in 1743 gebou en in 1925 as museum gevestig. Tulbagh pronk met ‘n ryk geskiedenis as vierde oudste dorp in Suid-Afrika en sy Kerkstraat het die grootste hoe­veelheid Kaaps-Hollandse, Edwardiaanse en Viktoriaanse huise in ‘n enkele straat in die land. Dié huise is sorgvuldig gerestoureer nadat ‘n aardbewing in 1969 groot skade in die omgewing aangerig het.

Die vieringe vind van 1 tot 3 Augustus plaas en begin die Vrydagaand met ‘n klassieke konsert in die Oude Kerk. Die mezzo-sopraan Thandiswa Mpongwana en die bas Reuben Mbonambi word deur die tenoor Nick van Huyssteen vergesel. Hulle word deur Juan Burgers begelei.

Toegang is gratis, maar mense moet die museum by 023 230 0148 skakel om ‘n sitplek te bespreek. Die konsert begin om 18:00 vir 18:30.

Op Saterdag 2 Augustus open die kunsuitstalling getiteld In die begin om 11:00 in die Rynse Sendingkerk in Van der Stelstraat. Die kurator is Theo Kleynhans. Slegs plaaslike kunstenaars is genader om vars werk vir hierdie uitstalling te skep. Besoekers kan kom kyk hoe verskillend hierdie kunstenaars die tema interpreteer.

Daar is ook ‘n reeks werke van 40x40cm waar elke kunstenaar ‘n fragment van die Oude Kerk aanbied. Hierdie werk sal in ‘n mosaïek hang en teen ‘n baie lae prys aangebied word. Die opbrengs van hierdie uitstalling sal aan die museum geskenk word.

‘n Glasie sjerrie wag vir besoekers wat ‘n begeleide toer deur die hele uitstalling saam met Kleynhans onderneem.

Inwoners van die plaaslike Steinthal- kinderhuis het ook ‘n 12 x 1,5 meter lange tekening van Afrikadiere geskep.

‘n Vlooimark sal op die grasperk by die Rynse Sendingkerk ingerig word met eet- en bederfgoed, feestelike musiek en kindervermaak.

‘n Langtafel-ete vind om 17:00 vir 17:30 voor die Oude Kerk plaas. Dit behels ‘n vyfgang-ete, vermaak, geskenkpak en komplimentêre wyn. Die kaartjieprys is R1 500 per paar en moet by die museum by 023 230 0148 bespreek word. Kaartjies verkoop vinnig – spring dus gou om teleurstelling te voorkom.

Die spyskaart is ontwerp deur Pieter Malan van Kokkedoor-faam en die eienaar van die lieflike Chef&Co-restaurant in Tulbagh, wat tans die nommereenplek op Tripadvisor beklee. Besoekers kan aan geregte soos brood met kaiings en spekboomkonfyt, waterblommetjies en stampmielie-risotto, lamstamatiekos met tamatie-espuma, tamatiekrummel en tamatiekraal smul, om maar net ‘n paar te noem. Die ete sluit af met stowe-appelpoeding en hanepoot “brittle”.

Sondag 3 Augustus om 10:00 lei die bekende dr. André Bartlett die kerkdiens in die Oude Kerk in Kerkstraat. Tee en verversings word in die Rynse Sending- kerk in Van der Stel Straat na afloop van die erediens aangebied.

Skakel die Tulbagh-toerismekantoor by 023 230 1375 of besoek www.tulbaghtourism.co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article