Doretta Janse van Rensburg by een van die beddings waar die jaartboontjies floreer.Foto: Ronél van Jaarsveld


Dat ’n handjie vol boontjiesaad vir só ’n vol vrieskas sou sorg, het ’n tuinier van Hospitaalheuwel in Worcester nie voorsien nie.

Doretta Janse van Rensburg het ’n ruk gelede ’n paar boontjiesade by ’n vriendin, Rienie de Jager, gekry en sommer tussen haar blomme gesaai. Die boontjies het mooi gedra en sy het nog ’n paar sade gekry om te plant.

“Ek kan nie glo hoe baie die plante dra nie. Ek het al hoeveel keer geoes en elke derde dag is daar nuwe boontjies wat gepluk en gekerf moet word,” lag sy. “Dis ook maar goed ek is afgetree en het tyd daarvoor.”

Die boontjies groei welig tussen die malvas en klouter teen die struike in haar tuin op. Dis juis in een van hierdie struike dat sy ’n bobaasboontjie van 50 cm lank gepluk het.

“Dit moet voorwaar ’n rekord wees,” sê sy.

“Ek onthou die lang boontjies van kindsbeen af. My pa het daarvan geplant en dit jaartboontjies genoem, soos die Engelse yard. Ek was baie bly toe ek die sade daarvan by Rienie kon kry.”

Haar vrieskas is volgepak met netjies gekerfde boontjies. “Dit is ’n baie lekker boontjie om te eet en is glad nie draderig nie. Ek het ’n stokou resep wat ek by my skoonsus gekry het, nader getrek om kerrieboontjies te maak, want hier is so baie boontjies om op te gebruik.”

Dié boontjies het blykbaar hul oorsprong duisende jare gelede in China vanwaar hulle na die res van die wêreld versprei het. Sekere variëteite se boontjies word tot so lank as een meter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article