Miriam Mochologi, die omstrede polisiehoë wat binne tien jaar in die polisiediens tot generaal-majoor bevorder is, is aangewys om van volgende maand as die nuwe bevelvoeder vir die Wynland-distrik te dien.
Genl. Mochologi het in Februarie 2023 die nuus om die verkeerde redes gehaal te midde van bewerings oor haar bevoegdheid en beweerde gebrek aan vuurwapenopleiding.
Sy was in daardie stadium die distrikskommissaris in die Overberg-streek.
Die bewerings is gemaak in ‘n video deur Ian Cameron, DA LP en voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie.
Cameron was in daardie stadium ‘n teenmisdaadaktivis verbonde aan die organisasie Action Society.
Cameron het in die video beweer Mochologi het haar loopbaan in die polisie met die rang brigadier begin, ondanks die feit dat sy in daardie stadium slegs oor ‘n nasionale diploma in openbare skakelwese beskik het.
Cameron het ook verder beweer dat sy – ondanks haar gebrek aan behoorlike vuurwapenopleiding – as die hoof van sigbare polisiëring in die Vrystaat aangestel is.
“Dit is kommerwekkend dat sy nie die basiese opleiding vir polisiebeamptes ondergaan het nie.
“Sy het nie die nodige vuurwapenopleiding voltooi nie, maar daar is dokumente wat aandui dat sy ander vorms van skiet-toetse in 2021 afgelê het.
“Dit is soos om vir jou bestuurslisensie te gaan, sonder om ‘n leerlinglisensie te hê,” het Cameron in Februarie 2023 gesê.
Mochologi het toe ‘n crimen injuria-saak teen Cameron by die Hermanus- polisie aangemeld.
Die Hermanus Times het in Februarie 2023 berig dat Mochologi die bewerings in daardie stadium as “ongegrond” bestempel het.
“Dit sou net nie sin hê dat ek in so ‘n hoëvlak-amp geplaas word sonder dat ek aan die nodige vereistes en aanstellingskriteria by hierdie hoogs gedissiplineerde organisasie voldoen nie.
“Ek is hier om misdaad te bestry en ek vra vir die gemeenskap se ondersteuning,” het sy in daardie stadium gesê.
Cameron het egter vandeesweek volstaan met sy bewerings en gesê Mochologi se skuif na die Wynland-distrik verdien ‘n deeglike ondersoek aangesien hierdie distrik “verskeie hoëmisdaadgebiede insluit en sterk operasionele leierskap verg”.
Hoewel hy haar hierdie keer nie by die naam identifiseer het nie, het hy op Maandag 24 Maart in ‘n Facebook-inskrywing na sy video van Februarie 2023 verwys.
“Ons sit met ‘n gebroke stelsel waarin bevorderings gedryf word deur politieke kontakte en nie bevoegdheid nie.
“Polisiebeamptes wat al 20 tot 30 jaar lank misdaad bestry, word oor die hoof gesien ten gunste van individue met beperkte ervaring in operasionele polisiëring,” het Cameron in die inskrywing gesê.
Mochologi kon nie vandeesweek telefonies bereik word nie.



