‘n Nuwe plaasveiligheidsforum is onlangs deur die adjunkburgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, Juben von Willingh, bekendgestel.
Die eerste vergadering is op die Mooigezight-plaas gehou, waar boere en rolspelers in die bedryf veiligheidskwessies bespreek het sodat op die beste veiligheidspraktyke besluit kan word.
Dié forum sal dien as ‘n platform waar kennis uitgeruil en probleme bespreek kan word. Die lede sal op belangrike sake fokus, soos veiligheid met masjienerie, chemiese bestuur, slaggereedheid in noodgevalle en landbou-opleiding.
“Deur ons bronne en kennis saam te voeg, kan die forum die risiko’s verminder en ‘n veiliger werksomgewing op plase skep,” het Von Willingh gesê.
Hy het sy dank uitgespreek aan die nuutverkose voorsitter, Ethienne Plaatjies, en die uitvoerende hoof, Nico Verster, vir hul bydrae.
“Ons breek nuwe grond met hierdie pro-aktiewe inisiatief waar plaaswerkers vir die eerste keer bymekaar kom om ‘n toegewyde plaasveiligheidsforum te stig.”



