Francois Rossouw (30), ‘n tafeldruiweboer in die Hexriviervallei, is verlede week as Agri Wes-Kaap en Santam se Jongboer van die Jaar aangewys.
Rossouw boer op 310 hektaar saam met sy familie op die Mooigezicht-langoed op die plaas waar hy grootgeword en sy liefde vir landbou geleer het.
Jannie Strydom, die uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, beskryf hom as die soort jong- boer wat mense hoop gee vir die toekoms van landbou in die provinsie. “Sy benadering tot bestuur – van presisieboerdery en tegnologie tot mense-ontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid – toon ‘n buitengewone balans, kundigheid en menslikheid. Hy is ‘n waardige ambassadeur vir ons provinsie.”
Rossouw het in die kompetisie gewys boere moet vinnig by omstandighede aanpas en onder druk kan funksioneer.
Die familie het drie agtereenvolgende moeilike seisoene op die plaas beleef met haelstorms wat skade aangerig het. Hy het hul internasionale markstrategieë strategies geherstruktureer.
Van die punte wat hom bo die ander deelnemers laat uitstaan het, was dat hy saam met sy span gewerk het eerder as om net opdragte te gee. Hy het sy span met motivering en vernuwing deur moeilike tye gelei.
Rossouw wil in die toekoms hul bemagtigingsinisiatiewe en maatskaplike ontwikkelingsprojekte vir plaaswerkers en hul kinders uitbrei asook ‘n organisasie sonder winsoogmerk vestig om onderwys en ontwikkeling te bevorder.
“Francois se geïntegreerde bestuurstyl, sy vindingrykheid en sy fokus op mense en gehalte het ons beïndruk,” het Inus Oosthuizen, die sameroeper van die beoordelingspaneel, gesê.
“Hy is nie net ‘n uitnemende produsent nie, maar ook ‘n leier wat sy span bemagtig en sy gemeenskap dien. Hy bestuur alles van grondontledings en geoutomatiseerde besproeiing tot gemeenskapsdiens en geloofsgebaseerde waardes met hart én kop.”
Rossouw het by die toekenningsgeleentheid gesê die eerbewys is danksy spanwerk.
“Dankie aan my familie en span by die huis wat vir my die geleentheid geskep het om deel te wees van ‘n boerdery waar ek myself kan uitleef. Ek dink wat die belangrikste is, is dat ek foute kon maak sodat ek kan leer,” het hy gesê.
“Ek beskou hierdie erkenning nie net as my eie prestasie nie, maar as ‘n huldeblyk aan elkeen op die plaas wat daagliks hul hande vuil maak. Boerdery is spanwerk, en sonder my span, my familie en die Here sou ek nie vandag hier gestaan het nie. Ek glo ons boerdery is ‘n roeping – en dit gee my ‘n rede om as vierde geslag [op die plaas] steeds aan te hou.”
• Rossouw sal die Wes-Kaap by die nasionale Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie as provinsiale wenner verteenwoordig.





