Goeie nuus vir verslaafdes aan alkohol en of dwelms in die Langeberg-streek, wat nie maklike toegang tot beradingsdienste het om hul verslawing te oorkom nie, is dat BOWL Addiction Treatment Services – ‘n organisasie sonder winsoogmerk – in Mei vanjaar ook ‘n tak in Robertson geopen het.
Volgens Joe van der Berg, die stigter en uitvoerende hoof van BOWL Addiction Treatment Services, is daar ‘n hoë voorkoms van veral alkohol-verslawing in die Langeberg-streek, gevolg deur tik- en Mandrax-verslawing.
Hy sê dis juis om hierdie rede dat BOWL besluit het om sy dienste nader aan die mense van die Langeberg te bring.
Die nuwe tak is by Le Rouxstraat 25, Robertson.
Diegene in die Langeberg wat hul verslawing die nekslag wil toedien, kan die maatskaplike werker aan diens Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 16:00 by 070 743 5985 bel of ‘n WhatsApp na dieselfde nommer stuur.
BOWL het tans takke in Worcester (Russellstraat 91) en Villiersdorp (Buitenkantstraat 2).
Van der Berg sê hy beplan om volgende jaar ‘n kantoor in Ceres te open omdat daar ook ‘n groot behoefte is.
Volgens Van der Berg het hy BOWL Addiction and Treatment Services in 2016 op die been gebring.
Die organisasie is in 2017 by die departement van maatskaplike dienste geregistreer.
Van der Berg, wat op die plaas Moddergat tussen Villiersdorp en Worcester grootgeword het, vertel dat hy as kind gesien het wat die dopstelsel aan mense op die betrokke plaas doen.
“Ek het op die plaas onder meer geweld binne gesinsverband aanskou – dit en die feit dat mense dwelmverslaafdes net so afskryf, terwyl daardie kind ook ‘n droom gehad het.
“Wat my ook gedryf het om BOWL te begin, was ander maatskaplike euwels soos verkragting, moord en kindermishandeling, wat ‘n direkte gevolg van middel-afhanklikheid is.”
Volgens Van der Berg sou BOWL aanvanklik net hulp aan kinders van 13 tot 17 jaar oud verleen.
Hy sê daardie deel van die beleid is egter gewysig nadat sy organisasie bewus geword het van ‘n sesjarige seun wat aan dagga verslaaf was en ‘n 75-jarige oom wat aan Mandrax verslaaf was.
Van der Berg sê sedert Desember verlede jaar het al hoe meer dobbelverslaafdes ook na BOWL begin uitreik.
“Aangesien dobbelverslawing iets heeltemaal nuuts is vir ons hier by BOWL, het ons na die nasionale dobbelraad uitgereik.
“Die raad het ons personeel in Junie vanjaar kom oplei hoe om dobbelverslawing te hanteer.
“Deesdae reik al hoe meer dobbelverslaafdes van Worcester na ons uit. Daar is ‘n redelike toename daarvan.”
Volgens Van der Berg het BOWL onlangs ‘n verwysing uit De Doorns gehad van ‘n 16-jarige seun wat aan aanlyn dobbel verslaaf is.
Hy sê die seun het aan ‘n vertroueling by sy skool genoem hy vermoed hy het ‘n dobbelprobleem omdat hy angstig en kwaad word wanneer hy nie geld het om ‘n koopbewys te koop om aanlyn te dobbel nie.
Van der Berg vertel van ‘n vrou wat besluit het om van haar man – wat ‘n dobbelverslaafde is – te skei omdat haar gesin gereeld gedreig word deur mense by wie hy geld geleen het om te dobbel.
“Die man self het gewelddadig begin raak. Hy het al die televisie stukkend gegooi as hy nie geld vir dobbel het nie.”
Van der Berg gaan verder deur te sê sy organisasie is die enigste in die Kaapse Wynland-distrik wat geregistreer is om nasorgdienste te lewer.
Dit is nou waar hulle diegene wat hul behandeling voltooi het, help om in die gemeenskap te herintegreer.
Van der Berg sê geld, kospakkies vir hul kliënte en kantoormeubels is van BOWL se grootste uitdagings.
Volgens hom is BOWL voorts op soek na vrywilligers uit die gemeenskap om sy kliënte te bemagtig met vaardighede waaronder breiwerk en rekenaarklasse.
Vir dié doel kan Van der Berg by 023 346 4749 gebel word.
• Enigiemand in die Breedevallei en Overberg wat met hul verslawing hulp benodig, kan die volgende nommers skakel of ‘n WhatsApp stuur na 082 470 6857 (Breedevallei) en 070 724 7139 (Overberg). – Enrico Claassen



