Worcester se nuutaangestelde hospitaalraad is, van links, dr. Riaan Duvenage, Daniel Matthew, ds. John Willemse, Elton Shortles, Stephne Botha, dr. Francois Coetzee, dr. David Jantjies, Marissa Bezuidenhout, Jolandi Smith en Moegammat Stephanus.

Worcester se nuwe hospitaalraad, wat onlangs aangestel is, gee inwoners die kans om hul insette vir beter gesondheidsorg te lewer.

Die raad bestaan uit vyf gemeenskapsleiers, verteenwoordigers van die Worcester-hospitaal en ander gesondheidswerkers.

“Ons diverse agtergronde – van prokureurs tot geestelike leiers en verteenwoordigers van verskillende gemeenskapsgroepe, ingesluit mense met gestremdhede – verseker dat alle stemme gehoor en vernuwende oplossings gevind word. As heraangestelde voorsitter bring ek kontinuïteit en ‘n passie vir my gemeenskap. Dit is my manier om beteke­nisvol aan die gemeenskap terug te gee,” sê Stephne Botha, die raadsvoorsitter. “Die hospitaalraad is die gemeenskap se stem in gesondheidsorg. Ons bestaan om te verseker dat die hospitaal die gemeenskap werklik dien. Ons is hier om saam te bou aan beter gesondheidsorg vir almal.”

Sy beskryf die hospitaalraad as ‘n platform waar strategiese besluite geneem word en wat lewens raak.

“Ons bespreek nie net uitdagings nie. Ons wil aktief deel wees daarvan om vernuwende oplossings te vind. Ons neem praktiese stappe om gemeenskapsgesondheid te transformeer – sonder om die wiel te herontwerp. In ware vennootskap met die hospitaal-bestuur, wat hard werk aan oplossings, voeg ons die gemeenskapsperspektief by om saam beter resultate te bereik.”

Sy verduidelik dat die hospi­taal se bestuur die sakelys opstel, hoewel elke raadslid sy eie unieke gemeenskapsperspektief na die tafel bring.

Een van die eerste take wat die raad aangepak het, was om die nuwe raadslede aan die hospitaalpersoneel asook aan kommunikasiekanale bekend te stel sodat die hospitaalbestuur ondersteun word om uitdagings vinnig en doeltreffend die hoof te bied.

“Saam kan ons aan ‘n gesonder gemeenskap bou, waar elkeen die gesondheidsorg wat hulle nodig het, met waardigheid sal ontvang.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article