Doreen Abrahams met haar geliefde tafelharp. Sy speel ook graag die mondfluitjie wat hier om haar nek pas. Foto: Tandy-Lee Marinus


Die tafelharpspeler van Worcester, Doreen Abrahams (72), was ses jaar oud toe haar pa haar op die verhoog staan gemaak het. En dáár het haar liefde vir musiek begin.

Sy het haar tafelharp ongeveer 30 jaar gelede gekoop nadat sy, nogal in Standard, ’n advertensie daarvoor gesien het. Van daardie handelsnaam is hy die grootste, met 36 snare en 15 drukke.

“Ek het ene mevrou Deetlefs gebel wat dit adverteer en gevra of dit tuingereedskap is en of dit ’n musiekinstrument is!” lag sy.

Met die bevestiging dat dit wel ’n musiekinstrument is, en boonop splinternuut, het sy dit gekoop vir ’n skamele R85.

“Toe ek by die huis kom met dié harp, bekyk ek die storie so, en dink ek het nou ’n wit olifant gekoop. Want hoe nou gemaak? Ek kan musiek maak, maar ek ken hóm nie. Ek het hom weer toegedraai en onder die spieëltafel gesit. Daar het hy gelê vir vyf jaar.”

Daarna het sy siek geword, en in die hospitaal beland.

“Die Sondagaand toe ek by die huis kom en op die bed lê, kyk ek so onder die spieëltafel en daar lê die harp. Ek sit toe met hom op my skoot in die bed en ek sê net so ’n klein gebedjie op. Ek sê vir die Here ek wil so graag hierdie instrument speel, as Hy net vir my die kennis sal gee, want ek wil dit vir Hom doen.”

Dit was lankal haar begeerte om hospitaaldienste te hou, maar sy wou nie net praat nie; sy wou sing ook.

“En toe ek my oë oopmaak, speel ek ‘O Heer my God’. Net so sonder om te weet hoe! Die Here het vyf jaar vir my gewag om vir Hom te vra om vir my die kennis te gee. ‘Instant prayer with an instant answer.’”

Sy het hospitaaldienste begin hou.

Die mense het dit só geniet dat sy gevra is om by partytjies, kerkgesellighede en begrafnisse op te tree. Sy het selfs onlangs na Johannesburg gereis om by ’n begrafnis te sing.

Hierdie begaafde musikant is ook onlangs op RSG gehoor.

Sy was boonop ’n jarelange lid van Fortissimo en het in 2008 en 2012 saam met dié koor deur Kanada en Europa getoer.

“Ek voel so ontspanne wanneer ek speel. Ek kan dit nie beskryf nie. Alles wat ek doen, is vir my ’n plesier.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article