Dit is nie net die inwoners van Touwsrivier wat bekommerd is oor die skade wat diewe aan infrastruktuur aanrig nie.
Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het by navraag gesê dat die plundery van geboue op die dorp ook vir hulle hoofbrekens gee. Hulle het ‘n sakeplan reg om dié agteruitgang te verhinder.
Standard & Breederivier Gazette het verlede week berig dat groot skade aan geskiedkundige geboue deur diewe aangerig is. Dié geboue, wat aan Transnet behoort, was dekades lank ‘n belangrike deel van die gemeenskap se sosiale lewe, maar dit het die afgelope paar jaar in onbruik verval. Inwoners het ‘n petisie op die been gebring en praat met Transnet, die BVM en ander rolspelers oor wat gedoen kan word om verdere skade te verhinder en die geboue, soos die ontspanningsaal, te herstel.
“Eiendomme wat aan Transnet behoort, spesifiek die ou treinstasie, is sistematies deur vandale afgetakel. Ons stem saam dat dit belangrik is om die dorp se erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar,” het Hannelie Botha, ‘nwoordvoerder van die munisipaliteit, gesê.

“Voorvalle van diefstal en vandalise-ring van munisipale bates is ‘n groeiende bekommernis vir die munisipale bestuur en ons benodig die hulp van die gemeenskap om dit te bewaar.”
Die munisipaliteit het ‘n sakeplan aan Transnet voorgelê om van die geboue te bekom en die Touwpark-ontspanningsklub in ‘n veeldoelige en vaardigheidsontwikkelingsentrum om te skep. “Ons wag op terugvoering van Transnet,” het Botha gesê.
Botha het gesê dat daar geen munisipale infrastruktuur in Touwsrivier is wat in onbruik staan nie. “Dit het definitief gehelp dat dit nie onder vandale deurgeloop het nie.”
Die BVM het die gemeenskap aangemoedig om te help om die infrastruktuur op hul dorpe te beskerm en onwettige aktiwiteite aan te meld.
“Vandalisering van eiendom wat nie aan jou behoort nie, is heeltemal onregverdigbaar – dit is kriminele optrede. In die geval van munisipale eiendom ondermyn vandalisme die BVM se vermoë om volhoubaar dienste aan inwoners te lewer.”
Vandalisme dwing ook die munisipaliteit om herstelwerk te doen waarvoor nie begroot is nie, soos kabeldiefstal, wat onmiddellik herstel moet word.
Volgens Botha is die BVM toegewyd daaraan om Touwsrivier se ryk geskiedenis te bewaar en moedig samewerking tussen inwoners en erfenis-owerhede aan.






You must be logged in to post a comment.