Multisure Villagers verslaan Wesbank in naelbyt Top-12-Groepfase-wedstryd

Villa se regtervleuel Juan (Cooper) Williams Gaan oor vir sy drie. Foto: Stephan Neethling

Multisure Villagers verslaan Wesbank in naelbyt Top-12-Groepfase-wedstryd


WORCESTER: Multisure Villagers Worcester moes Saterdag (24 Oktober) tot die bittereinde op sy tuisveld op Bolandpark in Worcester gefokus bly voordat hy die besoekers, Wesbank van Malmesbury, in ‘n Top-12-Groepfase-wedstryd met 28-26 kon verslaan. Dit nadat die besoekers teen rustyd nog met 14-12 voorgeloop het.

Hierdie wedstryd het soos menige keer in die verlede groot belangstelling gaande gemaak. Rugby-geesdriftiges van albei spanne het reeds van vroeg af na Bolandpark opgetrek.

Die wedstryd het om 17:00 teen ‘n geweldige tempo begin, met veral Wesbank wat sommer van meet af aan gewys het waartoe hulle in staat is deur veral met hul swaar pak voorspelers en met ‘n fris briesie in hul guns hul stempel op die wedstryd probeer afdwing het.

Dit was egter die tuisspan, ook bekend as Villa, wat eerste bloed geruik het toe sy deurwinterde skrumskakel en koelkop-strateeg Gurshwin Africa oorgaan vir ‘n drie wat die heelagter Jaydian Buys ongelukkig nie kon verdoel nie.

Wesbank word egter kort hierna met ‘n strafdrie beloon toe hulle die tuisspan in tru-rat op hul doellyn dwing.

Villa neem kort hierna weer die voortou toe sy vasskopstut Franlin Smit oorbars en Buys verdoel om die tuispan met 12-7 te laat voorloop. Wesbank kom hierna met ‘n verbete aanslag en word beloon met ‘n sewepunter toe die agtsteman en kaptein Keagan Solomons oorgaan en die losskakel Gavern Skippers verdoel om Wesbank teen rustyd met 14-12 te laat voorloop.

Kort ná die aanvang van die tweede helfte en met die wind nou tot hul voordeel, neem Villa die voortou toe Buys met ‘n strafskop slaag.Wesbank slaan egter hard terug toe sy buitesenter en groot ster Kirsten Adams met ‘n skitterende breekslag oorgaan en sy heelagter Dillion Strydom verdoel vir ‘n 21-15 voorsprong.

Villa kom terug in die prentjie toe sy regtervleuel Juan (Cooper) Williams ná ‘n volle agterlyn-beweging oorgaan vir ‘n onvervyfde drie om die agterstand na 20-21 te laat krimp. Buys laat egter kort hierna vir Villa voorloop toe hy met ‘n strafskop slaag.

Nou behoorlik aangevuur, dryf Villa pragtig met sy voorspelers en gaan die flank Bevan Malapi oor vir ‘n onvervyfde drie om Villa met 28-21 te laat voorloop. Wesbank kom egter met alles tot sy bekikking en word met ‘n drie deur die plaasvervanger-vleuel Ugha Niemand beloon om die telling nou op 26-28 te staan te bring.

Met die uurglas wat vinnig leegloop, word die taak om Wesbank gelyk te laat trek, aan Skippers oorgelaat. Met asems wat opgehou word, kom hy vorentoe en tot groot verligting van die tuisskare, trek sy skop regs verby en wen Multisure Villagers hierdie spannende wedstryd om weer sy aspirasies vir Top-12 glorie op koers te kry.

In ‘n eensydige hoofvoorwedstryd klop die nasionale kampioene Walkerbay Vrouespan van Hermanus die plaaslike span Worcester Warriors met 60-0 in ‘n Super 8-wedstryd.

Eerskomende Saterdag (31 Oktober) vertrek Multisure Villagers na Vredendal waar hulle Invincibles moet gaan pak.

LEES OOK: Kiwi’s se wedstryd teen Bolandse 15-tal in Worcester só onthou

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article