Kiwi’s se wedstryd teen Bolandse 15-tal in Worcester só onthou

Michael Jones groet toeskouers oor die heining.

Kiwi’s se wedstryd teen Bolandse 15-tal in Worcester só onthou


Nieu-Seeland se All Blacks het op 6 Augustus 1996 ‘n wedstryd op Esselenpark in Worcester gespeel wat tekenend was van die transformasie van rugby in Suid Afrika.

Die geweldige impak wat dié week-wedstryd op rugbyliefhebbers gehad het, is legendaries. Dis tragies dat die massiewe betekenisvolheid daarvan steeds in Suid-Afrikanse rugby-annale onderskat word.

Drie dekades later praat mense steeds met groot trots en emosie oor Worcester se grootste rugby-oomblik – 6 Augustus 1996, toe die draers van die silwervaring op Esselenparkstadion teen ‘n Bolandse vyftiental opgedraf het.

Wanneer die wedstryd jaarliks op sosiale media herdenk word, is daar gewoonlik ‘n stortvloed van reaksies op en terugblikke na die dag. Vir baie jare al is die All Blacks die gewildste internasionale sportspan van derduisende Suid Afrikaners, soos gesien word in die All Blacks-ondersteunerklubs, veral in die Wes- en Oos-Kaap en in Kaapstad waar na hulle verwys word as die Kaapse Crusaders [na aanleiding van die legendariese Crusaders- provinsiale span in Christchurch]. Die manne in swart
geniet feitlik ikoniese status by hul volgelinge.

Nadat sodanige ondersteuners in die apartheidsjare op Nuweland slegs van agter die pale aan die Suidpawiljoen die spelers in aksie kon sien, het 6 Augustus 1996 hulle binne aanraakafstand van hul helde gebring. Dit was die eerste keer in Suid Afrika dat ‘n internasionale span in ‘n sogenaamde bruin woongebied kom speel het.

Die Nieu-Seelanders het maar swaar gekry teen ‘n opgesweepte Bolandspan wat die latere Springbok Breyten Paulse ingesluit het en uiteindelik met 32-21 gewen. Die uitslag was egter ‘n bysaak vir die meeste toeskouers – ongeag All Black- of Springbok-ondersteuner, almal het van oor die hele Wes-Kaap na Worcester opgetrek, net om die span in aksie te sien, met hulle te gesels, foto’s te neem en handtekeninge te kry.

Voldag- en halfdag-verlofaansoeke by die werk was aan die orde van die dag want só ‘n geleentheid kom nie sommer nie. Alton Opperman onthou die kaartjies was R30 tot R40. Net nou die dag in die Kaapstadstadion moes jy tussen R350 en R1 000+ opdok om die All Blacks te sien.

Die groot gunstelinge was Jonah Lomu, die sterk vleuel wat met sy brute krag sy teenstanders plat gehardloop het, asook Michael Jones, wie se sterk beginsel om nooit op ‘n Sondag te speel nie wêreldwyd groot agting aan hom besorg het.

Jonah Lomu
Charles Beukes saam met een van Nieu Seeland-rugby se grootste helde, die ontslape Jonah Lomu.

Kontak tussen spelers en gemeenskap

Die All Blacks is wêreldwyd bekend vir hul nederige, plat-op-die-aarde-houding wanneer dit by bewonderaars kom. Hulle sal altyd tyd maak vir ‘n foto, handtekening, ‘n kort woordjie – iets wat by menige beroemde sportstêrre ‘n snobistiese nee is.

Nadat die spelers uit die bus geklim het, het mense van uit die straat oor die omheining geroep na Jones, wat doodluiters na die heining gestap het om hulle te groet.

Die room van Worcester en omgewing se rugbygemeenskap was daar – almal deel van die historiese vertoonvenster van S.A. se rugbytransformasie. Worcester Senior Sekondêre Skool, wat die groot eer gehad het om president Nelson Mandela toe te sing met sy eerste besoek aan Worcester ná sy vrylating in 1990, was weer eens deel van die geskiedenis met sy trompoppie-optrede voor die hoofwedstryd, onder leiding van Mildred van der Ross.

Net mooi 12 jaar later is ek, as die hoof van die munisipaliteit se 2010-Sokkerwêreldbekerprogram, en die destydse onderburgemeester, wyle pastoor Thom Pedro, onder meer na Nieu-Seeland om Worcester as ‘n basiskamp vir hul All Whites-sokkerspan te bemark. Ek het foto’s van hierdie wedstryd in die bemarkingsboekie gebruik om die Kiwi’s te oortuig hoe welkom hulle in Worcester sou wees en hulle het ingestem om Worcester as basiskamp te gebruik, met Goudini Spa vir verblyf en die Zweletemba-stadion as oefenveld. Ongelukkig is hulle toe geloot om in die noorde hul wedstryde te speel.

Nieu Seeland Rugby
Charles Beukes en die destydse onderburgemeester, Thom Pedro, in die kantoor van Nieu-Seeland-Rugby met die Drienasies-trofeee en die Bledisloe-beker.

Wyle Jeff Klink, groot sportadministrateur, en sy span het gesorg dat baie plaaslike spelers 6 Augustus 1996 kon deel en van die oggend af is wedstryde gespeel waar plaaslike spelers en skeidsregters sowel as die plaaslike noodhulpmense betrek is. Die plaaslike spysenier Glynis Najaar het die ete vir die amptelike onthaal in die stadsaal voorsien. Bernard Fortuin het 50 skoolseuns uit De Doorns gebring. So het Worcester die wedstryd as een groot fees omarm om ons talente op velerleidelike wyse aan die groot klok te hang.

Dat die verwagtinge wat geskep is in rugbykringe – dat Esselenpark geoormerk was as ‘n hoofstadion vir rugby in die Boland – nie gerealiseer het nie, is miskien ‘n groot teleurstelling. ‘n Historiese eerste vir Esselenpark was die eerste elektroniese tydapparaat en -telbord wat Michael Diergaaard van Worcester Minerals laat aanbring het – soos wat standaard is by stadions wat sulke wedstryde aanbied.

Herdenk dié dag

Deel van die fietsrybaan is opgekap om graswal-sitplek te voorsien aan die skare van bykans 10 000 toeskouers op die dag – juis weens die vooruitsig van meer gereelde groot wedstryde, wat wel in ‘n mindere mate geskied. Dat daar 30 jaar later steeds net die oorspronklike pawiljoen vir 800 mense is, met die Hammies t. Villa-derbies wat gereeld 7 000 tot 10 000 mense lok, dui egter daarop dat die gerief van toeskouers nog nie ‘n prioriteit vir ons plaaslike owerhede is nie. Van die beloofde nuwe fietsbaan vir een van ons histories mees gewildste sportsoorte het dadels gekom en plaaslike baanfietsryers moet ten duurste hul sport anderkant die baan gaan uitleef.

Die junior stadsraad het ‘n geleentheid gesien om hierdie wedstryd as simbolies van ‘n nuwe toekoms vir ons jeug te herdenk. Hulle het naamlik ‘n paar keer met die steun van plaaslike spelers en klubs, soos Perserverance wat die silwervaring as wapen het, en De Doorns wat die groen en goud dra, asook Young Hamiltons wat die wedstryd aanbied, ‘n Boks t. Blacks- wedstryd op Esselenpark aangebied, kompleet met die volksliedere en haka, gelei deur Hammies se CJ Beukes.

Mense besef nie die betekenisvolle bydrae wat die geleentheid gelewer het tot sporttransformasie in Suid Afrika nie en verspeel ‘n uitstekende kans om die All Blacks – ongeag die logistieke uitdagings – weer na Worcester te bring wanneer hulle in Kaapstad speel – al is dit dan net vir ‘n oefening of rugbykliniek.

Dit sal slegs gebeur as plaaslike rugbyklubs hande vat om te verseker dat dié dag deur ‘n jaarlikse herdenking sy regmatige plek in die rugbygeskiedenis van Suid Afrika inneem.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article