Plaaslike owerhede waarsku weer eens dat motoriste waaksaam moet wees teen slenters as hulle op die N1 tussen Worcester en De Doorns reis.
Die De Doorns-polisie het hierdie ernstige waarskuwing uitgereik nadat reisigers die afgelope tyd die teiken was van misdadigers wat hulle as druiwesmouse op dié nasionale pad voordoen.
Standard het al verskeie berigte hieroor geskryf en verslag gedoen oor inwoners en reisigers wat deur hierdie veronderstelde smouse ingeloop word.
“Daar is ’n toename in gevalle langs die N1-hoofweg waar motoriste wat stilhou om druiwe te koop, beroof word. Die oesseisoen en parstyd is tans aan die gang. Die druiwe word op nabygeleë plase gesteel, en dan verkoop – dikwels aan besoekers langs die snelweg,” sê Dalikhaya Mandelize, die De Doorns-polisie se stasiebevelvoerder.
Die polisie sê motoriste moet hulle daarvan weerhou om dié produkte langs die pad te koop.
Mandelize sê die De Doorns-polisie het ’n toegewyde eenheid wat gereeld patrollies in die gebied uitvoer.
“Die sogenaamde ‘verkopers’ is diegene wat die mense beroof, want die klaers sal vir ons sê terwyl hulle druiwe gekoop het, het die een wat die druiwe verkoop hulle toe begin beroof. Hulle beroof motoriste van hul persoonlike besittings, soos beursies, handsakke, selfone, skootrekenaars, ensovoorts.”
Standard het voorheen al berig oor talle voorvalle waarin inwoners of toeriste deur druiweverkopers langs die N1 gedreig en beroof is.



