Daardie winskopie soet druiwe langs die pad het etlike motoriste duur te staan gekom. Die polisie in De Doorns waarsku reisigers om nie langs die pad stil te hou om druiwe by smouse te koop nie nadat verskeie mense beroof is.
“Dit [lyk] asof die smouse motors met registrasienommers van Gauteng of die Oos-Kaap teiken – moontlik omdat dié mense nie al gewaarsku is dat hulle beroof kan word nie,” het kapt. Isaac du Plessis gesê.
Die rowers gaan slim te werk. Sodra iemand stilhou en ‘n venster oopdraai om met hulle te praat, gryp die diewe die motor se sleutel sodat hul slagoffer nie kan wegry nie. Hulle het ook al die druiwe bo-oor die bestuurder uitgegooi om die persoon te verwar en dan selfone of ander waardevolle eiendom uit die motor gegryp.
In een geval is ‘n vrou se oorbelle selfs van haar ore af gepluk.
Die padagentskap Sanral het reeds ‘n rooi lyn langs die pad aangebring om motoriste te ontmoedig om daar stil te hou, maar dit word verontagsaam.
Waarskuwingsborde is ook aangebring, maar die polisie het gevra dat meer opgerig word.
“Dit is beter om druiwe in ‘n winkel te gaan koop waar mense weet hulle is
veilig as om ‘n kans langs die pad te waag,” het kapt. Du Plessis gewaarsku.



