‘n Gesin van Avianpark in Worcester het die naweek die dood ter noue nood ontkom toe ‘n motor, wat van die pad af gejaag het, dwarsdeur hul betongrensmuur gebars, bo-op hul informele struktuur se dak beland en later op hul bed geval het.
Die voorval het verlede Vrydag (3 Oktober) in die middernagtelike ure plaasgevind.
Niemand is in die voorval beseer nie.
Terwyl die motor nog regop in die gesin se kamer gestaan het, het ‘n tweede motor Sondagoggend vroeg deur hul bure se beton-grensmuur gebars en in hul agterplaas tot stilstand gekom.
Albei motoriste het ten tyde van die voorval op die Villiersdorp-pad gereis.
Arrie Willemse van Dikkopstraat 31 vertel dat hy en sy vrou, Christolene, Vrydagnag skuins na 01:00 besluit het om te gaan inkruip. Hy sê hulle het skaars gelê toe hulle van ‘n harde slag wakker skrik.
“Toe ons die slag hoor, toe gryp ons die twee kinders [onderskeidelik sewe en vyf jaar oud] wat nog geslaap het en hardloop na buite,” vertel Christolene.
“Toe ons buite kom, toe val die kar deur die dak tot op ons bed waarop ons nou net gelê en slaap het. Die kar het regop [met sy neus in die lug] teen die hoofhuis se muur gestaan.
“Wat as die kar deur die dak geval [het] terwyl ons nog geslaap het? Ons kon mos almal dood gewees het. Alles in die kamer is vernietig – ons bed, die kinders se klerekaste, alles.”
Volgens Christolene was die bestuur- der van die motor ‘n vrou.
“Die vrou het eers nadat die kar op die bed geval het, uitgeklim. Dit het nie gelyk of sy beseer is nie. Sy het nie met ons gepraat nie en het hier vir die polisie gewag. Die polisie het haar toe hier weggevat. Sy woon glo in Roodewal.”
Volgens Christolene kan sy en haar gesin nou nie in hul informele woning slaap nie, “want ‘n hele stuk van die hok moes afgebreek word om die kar daaruit te kry”.
Arrie sê hulle soek nou na die vrou, want hulle wil weet hoe sy hulle vir die skade gaan vergoed. “Ons weet nie waar ons staan met haar nie.”
Nooddienswerkers het die wrak verlede Sondagoggend (5 Oktober) uit die gesin se woning verwyder.
Met betrekking tot die tweede voorval, vertel Anthea Phillips – ook van Dikkopstraat – dat sy en haar gesin Sondagoggend omstreeks 05:45 weens ‘n harde slag wakker geword het.

“Ek het gedink dit is die dak [in hul oprit] wat dalk meegegee het van Vrydagnag se ongeluk omdat die kar nog regop teen die muur gestaan het.
“Toe ek om die huis hardloop, toe sien ek ons muur is platgery. Die bestuurder was nog in die kar. Dit was ‘n silwer Tazz. Hy het om hulp geskree.
“Ons albei het later begin huil. Hy was baie geskok en het my gevra om sy ma te bel. Sy ouers was later ook op die toneel.”
Volgens Phillips het die man aan haar gesê die ongeluk het gebeur nadat hy vir iets in die pad uitgeswaai het.
AO Vathiswa Jacobs, ‘n polisiewoordvoerder, het by navraag gesê ‘n klagte van roekelose en nalatige bestuur word in die eerste voorval ondersoek. Geen klagte word in verband met die tweede voorval ondersoek nie.




You must be logged in to post a comment.