Hierdie motor het Dinsdagaand deur ’n hek in Van Zyllaan geploeg. Foto: Dominique Jeftha

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

’n Gesin wat in Van Zyllaan woon, het Dinsdagaand groot geskrik toe ’n motor deur hul hek gebars het.

Die vrou, wat verkies om nie haar naam te noem nie en in haar 60’s is, woon saam met haar familie in die huis. Sy sê sy het om 21:00 ’n harde slag gehoor en gedink dis dalk iets wat in haar seun se wendyhuis “ontplof” het.

“Ek was in die kombuis besig en op pad na die stoof toe het ek hierdie harde geluid gehoor, wat soos ’n ontploffing geklink het. Ek het uitgehardloop om te kyk of dit nie ’n ontploffing by my seun was nie. Maar toe sien ons iemand het deur ons hek gery.”

Sy sê die bestuurder van die motor woon in dieselfde straat.

“Hy woon ’n paar huise van ons af en ry gewoonlik so roekeloos. Net daar waar die ongeluk gebeur het, het drie seuns gespeel en die een het vanoggend (Woensdag) vertel hoe hy uit die pad moes spring. Ek is net bly die motor het nie deur ons tuinmuur gery nie, want anders sou dit my seun en sy gesin in die wendyhuis getref het.”

Sy het die spoed waarteen die botsing gebeur het, vergelyk met dié van dinge wat in flieks gebeur.

“Dit het regtig so vinnig soos in die movies gebeur. Die hek is van die paal waaraan dit vas was, afgeruk en van sy wieletjiespoor af gestamp.”

Gelukkig is niemand in die voorval beseer nie.

“Die bestuurder van die motor se vrou gaan vir die skade betaal. Ek het gesê ek wil nie nog dinge verder moeilik maak nie, daarom het ons nie die polisie ontbied nie.”

Sy sluit af met ’n lag in haar stem en sê: “Ons kan nou lag oor die komieklikheid van die aand, maar dinge kon dalk baie anders geëindig het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article