’n Vrou van Worcester het ’n organisasie begin om die jong vroue en meisies van die gemeenskap te help om bo hul omstandighede uit te styg.

Heloise Beukes meen sy het die afgelope paar jaar toegekyk hoe jong meisies en vroue al hoe meer “agteruitgaan”. Sy het toe Women of Worcester (WOW), ’n organisasie sonder winsbejag, begin. WOW is op 8 Maart – Internasionale Vrouedag – begin en is in Junie geregistreer.

“As ek so na ons gemeenskap kyk, sien ’n mens die nood, die styging in tienerswangerskappe en hoe ons dogters verval en soms ook met ouer mans deurmekaar raak. Dan is daar ook die kwessie van hoe ons kinders in drank en dwelms verval, asook die groot aantal jongelinge wat die skool vroeg verlaat. Hierdie is van die redes waarom ek besluit het om deur middel van Women of Worcester leiding aan ons meisies en jong vroue te bied,” verduidelik Beukes.

Sy het ook opgelet dat dinge ná die nasionale inperking erger begin raak het. “Ek het besef hoe sleg dit sal word as niks gedoen gaan word om hierdie kinders te help nie.”

“WOW wil voorkom dat meisies nie hul doelwitte in die lewe bereik nie. Ek wil hê hulle moet geleer word om te droom en om daarna te strewe om hul huidige omstandige te verbeter en bo dit uit te styg. WOW wil leiers kweek sodat hulle ’n visie vir hul lewe kan hê.”

Die organisasie werk met meisies van 12 tot 18 jaar.

“Ons gaan na skole toe en bied dan verskeie programme aan.”

Die organisasie se leuse is: “Crea­ting women of strength and diginity.

“Dit is belangrik dat hierdie meisies respek vir hulself en ander het. Nog ’n belangrike ding wat ek die meisies leer, is hoe om konflik en kritiek te hanteer en te kommunikeer. Daar is baie gevalle waar meisies en jong vroue deur mans misbruik of mishandel word. Dit is belangrik dat hulle weet hoe om hierdie situasies op die regte manier te hanteer en om te besef hulle verdien dit nie en genoeg selfrespek het om uit die situasie weg te breek.” Sy fokus ook op die verhouding tussen ma’s en hul dogters en het aan die einde van Vrouemaand ’n geselligheid gehou waar ma’s en hul dogters hul bande kon versterk. Die volgende projek wat Beukes beplan, is ’n leierskapwerk­sessie.

* Mense wat WOW se programme wil bywoon, kan Heloise by 079 771 9779 bel, of e-pos stuur na heloisebeukes@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article