Die “omgee-dorp” se inwoners het hul tyd en hande op Mandela-dag vrywillig gegee.
Touwsrivier was die afgelope Vrydag (18 Julie) nogal bedrywig met verskeie organisasies wat ingespring het om die gemeenskap as deel van hul 67 minute vir Mandela op te hef.
Plaaslike leiers, vrywilligers en talle inwoners het met die Breedevallei-munisipaliteit, Gift of the Givers, Compassionate Hearts en die Nederlandse Max Foundation hande gevat en pakkies met kos, higiëneprodukte en warm klere uitgedeel.
“Mandela-dag herinner ons dat elke klein handeling van gaaf wees ‘n uitkringeffek van verandering kan bring,” sê Juben von Willingh, die adjunkburgemeester.
“Dit moenie ‘n eenmalige gebeurtenis wees nie, maar ‘n lewenswyse.”
Gift of the Givers, wat bekend is vir sy vinnige hulpverlening in humanitêre krisisse, benadruk dat sy samewerking met die munisipaliteit wys hoe belangrik dit is dat die regering en die burgerlike samelewing hande moet vat.
“Saam kan ons ‘n baie groter invloed hê en ander mense inspireer om Mandela se waardes van meegevoel, eenheid en diens uit te leef.”
Die Langeberg-munisipaliteit het in samewerking met die Langeberg Christian Commerce Community Heart Network (LC3HN) verskeie projekte vir Mandela-dag aangepak, soos om strate skoon te maak, komberse en klere te skenk en uitreikingsprogramme vir kinders en bejaardes aan te bied.
Verskeie ander groepe het ook projekte oor die hele streek aangepak om hul gemeenskappe te dien.




Foto: Facebook/CWDM


Foto: Facebook/ Innovation for the Blind Credit: Design




You must be logged in to post a comment.