‘n Veertigjarige man van Robertson, Jurgens Jan Hanekom, het verlede Donderdag (12 Junie) in die landdroshof in Bellville op aanklagte van bedrog verskyn nadat hy glo ‘n fiktiewe beleggingskema bedryf het.

Dié klagtes het gevolg nadat ‘n klaer in Australië beweer het hy is R700 000 kwyt nadat Hanekom hom in 2024 oortuig het om in ‘n lewendehawe-skema te belê. Die klaer, wat glo nog geen opbrengste op sy belegging ontvang het nie, het die privaatondersoekers Royal Investigations genader om die saak te bekyk.

In ‘n verklaring het Royal Investigations gesê hulle het tydens hul ondersoek besef dat ‘n uitstaande lasbrief vir Hanekom wag, waarna hy op Woensdag 11 Junie in hegtenis geneem is. Die ondersoekers vermoed verskeie ander mense is ook deur Hanekom bedrieg en vra mense om na vore te kom.

Volgens sers. Wesley Twigg, ‘n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, duur die ondersoek voort.

Hanekom bedryf glo ‘n hondetelery, Gizzo Staffordshire Bull Terriers, in die Robertson-omgewing. Royal Investigations beweer Hanekom is in Desember 2023 ontvoer en aangerand – vermoedelik deur mense aan wie hy geld skuld. Hy het nie sy aanvallers geïdentifiseer nie. Hy is glo ook in Oktober 2021 op ‘n plaas in die Tulbagh-omgewing aangeval.

Hanekom verskyn weer op 25 Julie in die hof in Bellville.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article