Eers het hy sy saamleefmaat deur die gesig geklap en haar daarna verskeie kere met ‘n mes gesteek.

Dié steekwonde het uiteindelik tot haar dood gelei.

Dít was die hartseer lot van die 39-jarige Leatitea Pietersen van Robertson, die ma van vier kinders.

Geregtigheid vir Pietersen en haar geliefdes het verlede week (Donderdag 14 Augustus) geskied toe haar moordenaar, Henrico Jagers (36) – ook van Robertson – 25 jaar tronkstraf weens haar moord opgelê is.

Die hof het Jagers voorts onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Jagers het skuld op die moordklag erken, waarna hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Die veroordeelde moordenaar sê in sy pleitooreenkoms dat hy op 29 Oktober 2023 omstreeks 06:00 in Jubelstraat, Dorpsig, in Robertson was.

Jagers sê hy was op pad huis toe, toe hy Pietersen in die geselskap van ‘n kennis gesien het.

Volgens hom was hy kwaad vir Pietersen omdat sy die vorige aand nie tuis was toe hy by hul woning aangekom het nie.

Hy was voorts ook vies omdat sy hom glad nie oor haar doen en late ingelig het nie.

‘n Hewige rusie het tussen die twee ontstaan.

Hy erken gemoedere het so hoog geloop dat Pietersen die woning wou verlaat.

Volgens hom het hy haar aan die arm gegryp, haar terug in die woning gedwing en toe deur die gesig geklap.

Jagers het erken hy het ‘n mes uitgepluk en Pietersen verskeie kere daarmee gesteek. Volgens hom het Pietersen by die woning uitgestrompel tot in die straat, waar sy inmekaargesak en aan haar beserings beswyk het.

Jagers het ‘n kennis gevra om die polisie en ambulans te ontbied.

Hy het tot die polisie en ambulans se aankoms op die misdaadtoneel gebly, waar hy in hegtenis geneem is.

Die hof het gehoor dat geslagsgebaseerde geweld – spesifiek geweld tussen intieme paartjies – algemeen in gemeenskappe voorkom.

Dit is juis om daardie rede dat die samelewing van howe verwag om gepaste vonnisse op te lê vir diegene wat vroue aanrand en vermoor.

Wat versagtende omstandighede betref, het Jagers skuld beken en berou getoon.

Elton Willemse het aangekla. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article