Die 56-jarige man wat ’n rolstoel gebruik en twee weke gelde rot en kaal besteel is, was weer byna die slagoffer van ’n rooftog.
Carl Greyling, wat op ’n plaas langs die Aan de Doorns-pad woon, het verlede week aan Standard vertel hoe hy op 2 November in sy huis wakker geword en gesien het hy is rot en kaal besteel terwyl hy geslaap het.
“Toe ek in die kombuis kom en begin rondkyk, het ek gesien omtrent alles is weggedra,” het Greyling aan Standard vertel.
“Hulle het amper alles in die huis weggedra en ook die sleutels van my huis en motor gevat. Hulle het probeer om die kar te steel, maar dit is aangepas volgens my behoeftes en hulle het waarskynlik nie geweet hoe die voertuig werk nie,” het Greyling destyds gesê.
Greyling het Saterdagaand (19 November) omstreeks 23:15 voetstappe buite sy huis gehoor en aangeneem dit is van die plaaswerkers. Hy het onderlangs stemme gehoor, maar toe het sy motor se alarm afgegaan.
“Dit is nie ongewoon om stemme en voetstappe te hoor nie. Die plaaswerkers werk soms ongereelde ure. Dit was immers beurtkrag en ook baie donker. Toe ek my motor se alarm hoor, het ek besef daar is fout. Ek het my in die kamer toegesluit en geskree. Ek het die plaaswag gebel en vier minute later was hulle op die toneel. Die diewe kon weer eens nie die motor aangeskakel kry nie en het gevlug. Drie rye spore is gevind.”
Greyling het die saak Sondagoggend by die polisie aangemeld en ’n halfuur later was hulle by sy huis. Lede van die forensiese afdeling het vingerafdrukke geneem en ’n ondersoek word gedoen.
“Ek gaan trek. Ek is besig om te trek. Dit kan nie so aangaan nie,” het Greyling bevestig.





