‘n Getroude man van Rawsonville en pa van drie kinders het ‘n vrou in die gesig geskop toe sy geweier het om ‘n romantiese verhouding met hom aan te knoop.
Johnny Primo (46) van Spokiesdorp, De Nova in Rawsonville, is laat verlede maand – sowat twee jaar ná die voorval – vir vyf jaar tronk toe gestuur op ‘n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Dié vonnis volg nadat hy skuldig gepleit en ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
In sy pleitooreenkoms sê Primo dat hy die klaagster op 21 September 2023 by ‘n woning in ‘n informele nedersetting in Rawsonville raakgeloop het.
Hy erken die klaagster – ‘n kennis van hom – is goed aan hom bekend. Volgens hom het hy in ‘n stadium ‘n romantiese belangstelling in haar gehad.
Primo sê op die dag van die voorval was hy en die klaagster deel van ‘n geselskap by ‘n geselligheid. Volgens hom het almal – hy en die klaagster inkluis – tydens die betrokke geselligheid alkohol gedrink.
Hy erken hy was onder die invloed van alkohol, maar nie so dronk dat dit sy besluitnemingsvermoë benadeel het nie.
Primo erken hy het by die geselligheid besluit om ‘n gesprek met die klaagster aan te knoop oor die moontlikheid dat hulle ‘n romantiese verhouding moet aanknoop.
Hy sê toe die klaagster sy toenadering verwerp, het hy kwaad geword en haar aan die arm gegryp wat daartoe gelei het dat sy haar balans verloor en op die grond geval het.
Volgens Primo het hy die klaagster uit woede een keer in die gesig geskop terwyl sy op die grond gelê het.
Hy sê toe hy dit doen, het van die ander mense wat by die geselligheid was, ingegryp en hom van die klaagster weggetrek.
Volgens Primo het die klaagster ‘n besering in die gesig opgedoen nadat hy haar geskop het. Hy erken sy optrede was onwettig en dat hy die klaagster aangerand het met die doel om haar ernstig te beseer.
Met betrekking tot die verswarende omstandighede het die klaagster skok en verontwaardiging oor Primo se optrede uitgespreek en dat sy nie verwag het dat so ‘n voorval ooit tussen hulle sou plaasvind nie. Die klaagster het haar en Primo tot en met die voorval as goeie kennisse beskou.
Die hof het voorts gehoor dat die gemeenskap nie oortredings van hierdie aard duld nie en dus na die howe kyk om oortreders te vonnis om hulle te straf sodat dit as afskrikmiddel vir ander kan dien.
Wat die versagtende omstandighede betref, het die hof gehoor dat Primo skuldig gepleit en berou getoon het. Hy het voorts sy spyt oor sy optrede uitgespreek en die negatiewe impak wat dit op die klaagster gehad het.
Amisha Ratanjie het aangekla. – Enrico Claassen





