Met die ekonomie wat erg knyp, gebruik al hoe meer Suid-Afrikaners aanlyn platforms om ekstra geld te maak. Dit maak hulle al meer weerloos teen gewetenlose swendelaars.

Suid-Afrikaners, wat desperaat is om ’n dak oor die kop te hou, wend hulle dikwels ook tot rykwordskemas, wat hoë opbrengste belowe, maar glad nie voorsiening maak vir ’n bestendige, veiliger en langtermyninkomste nie.

’n Goeie voorbeeld van ’n geldmaakskema (een van menige) in die Breedevallei is die beleggingskema wat deur David Cupido van Touwsrivier bedryf is, waar derduisende mense in die knyp gelaat is.

Mense van reg oor die land heen het geld by hom in ’n piramideskema belê. Cupido is nooit vervolg nie en die geld is skoonveld.

Volgens die onlangse Momentum/Unisa- huishoudelike indeks is 14% van alle huishoudings besig met ’n side hustle om ekstra geld te maak, wat hulle natuurlik blootstel aan allerhande skemas en skelms.

Vyf aanlynbedrogskemas om in jou pasoppens voor te wees:

1. Die “Haai, dit is ek”-Whatsapp-bedrogspul (Hey, it’s me)

Met hierdie bedrogspul stuur die swendelaar ’n Whatsapp na sommer enige nommer. Dit lui: “Haai, dit is ek. Ek het my foon in die toilet laat val, so dit is my nuwe nommer.” (Soms verander hulle hierdie bedrogspul deur te sê: “Haai, Ma, dit is ek.”)

Die slagoffer sal antwoord en probeer om die identiteit van die boodskapper te raai, bv. “Thando? Is dit jy?” Die swendelaar sal vir ’n paar dae of selfs weke nie kommunikeer nie, maar sal uiteindelik ’n boodskap stuur waarin hy geld vra vir iets soos dringende motorherstelwerk. Onder die indruk dat dit iemand is wat hulle ken, stuur die slagoffer geld.. Hoe om dié bedrogspul te klop: Bel altyd die laaste bekende nommer van die persoon wat jy dalk dink dit is. Moenie enige persoonlike inligting bekend maak tydens jou interaksie met iemand wat oorspronklik die boodskap aan jou gestuur het nie.

2. Die aftrekorder-bedrogspul

Met hierdie skema ontvang die slagoffer ’n telefoonoproep “van hul bank se bedrogafdeling” waarin hulle ingelig word dat tot R200 die afgelope jaar elke maand van hul rekening gedebiteer is. Die “bank” bied aan om dit uit te sorteer, maar versoek dat die slagoffer hul identiteit en bankbesonderhede vir “sekuriteitsdoeleindes” bevestig.

Hulle vra veral vir die veiligheidskode agter op jou bankkaart.

Swendelaars steel graag bankstate uit posbusse, want dit stel hulle in staat om die korrekte naam, adres en gedeeltelike rekeningnommer te verskaf.. Hoe om die bedrogspul te klop: Bedank die persoon dat hy jou geskakel het, sit neer en bel dadelik jou bank se bedrogafdeling. Dit is gewoonlik ’n tolvrye nommer. Hulle kan bevestig of die oproep van hulle af gekom het of nie.

3. Die vervalste betalingsbewys

As jy daarvan hou om aanlyn te verkoop vir ’n ekstra inkomste, kan jy van tyd tot tyd ’n vals bewys van betaling kry. Dit lyk gewoonlik heel wettig en word as óf ’n teksboodskap óf ’n e-pos-boodskap gestuur. Selfs die e-posadres sal wettig lyk.. Hoe om dié bedrogspul te klop: Teken by jou internetbankdienste aan of bel jou bank om seker te maak dat die geld in jou rekening is voordat jy die goedere oorhandig. As die geld in jou rekening wys, dra dit oor na ’n tweede bankrekening om terugskrywings te vermy.

4. Die vals Facebook-werkaanbod

’n Vlaag ontvoerings het die afgelope 18 maande voorgekom en hou verband met vals poste op sosialemediaplatforms soos Facebook.

Een voorbeeld is ’n vrou in Durban wat deur vyf mans met vuurwapens ontvoer is toe sy vir wat sy gedink het ’n werkonderhoud is, gegaan het. Met hierdie bedrogspul word geleenthede vir werk op Facebook geplaas, maar wanneer jy opdaag, word jy gevange gehou en ’n losprys word geëis. In nog ’n weergawe hiervan word jy gevra om te betaal om uit te vind hoe jou aansoek vorder.. Hoe om dié bedrogspul te klop: Moet nooit betaal om vir ’n werk aansoek te doen nie. As ’n werkonderhoud toegestaan word, maak seker die onderhoud word wel by ’n perseel van die instansie gehou. Gebruik Google Maps om die adres en voorkoms van die gebou te besigtig. Sê altyd vir ander mense waarheen jy gaan.

5. ‘Spear phishing’

Spear phishing teiken ’n spesifieke slagoffer. Hier word ’n bekende e-posadres of huidige gebeure – soos wanneer ’n kind siek is of iets waaroor berigte in die media verskyn het – gebruik om geld of waardevolle inligting uit die teiken te kry. Jy kan byvoorbeeld ’n e-pos-boodskapo van “iemand wat jy ken” ontvang wat jou vra om Google Play- of lugtydkoepons vir hulle te koop, of wat jou vra om geld te skenk vir ’n goeie saak. . Hoe om hierdie bedrogspul te klop: As jy e-pos ontvang van iemand wat jy ken, maar die versoek maak nie sin nie, of is buitengewoon, bel en vra. Kyk mooi na die e-posadres en maak doodseker dis die korrekte adres. Dit kan dalk met net een letter of syfer verskil.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article