Suid-Afrikaners staar voordurend uitdagings, ongerief en frustrasies in die gesig – beurtkrag- en waterbeperkings, brandstof- en kruideniersware-prysverhogings asook repokoersverhogings (om slegs ’n paar te noem). Afgesien daarvan dat hulle die afgelope paar jare emosionele, fisieke en geestelike spanning ervaar het, lyk dit of hul finansiële probleme nie iets van die verlede is nie.
Daarom moet jy, die verbruiker, versigtig wees wanneer jy deelneem aan enige komende aanlyn- of in-die-winkel-inkopie-bonanzas bloot omdat jy kan of wil. Staan sterk en moenie mislei word deur verskeie bemarkingsfoefies wat jou lok met boodskappe soos “Verkry vroeë toegang . . .”, “Wees die eerste verbruiker om ons spesiale afslag te ontvang . . .”, “Berei jou voor vir massiewe aanbiedings wat binnekort kom . . .” of “Elke dag is Swartvrydag hierdie week . . .” nie.
“Indien jou skuld reeds buitensporig is in vergelyking met jou maandelikse inkomste, sal jy jouself net dieper in ’n skuld-gat laat delf wanneer jy aan Swartvrydag of komende soortgelyke geleenthede deelneem. Daarom sal ek jou aanbeveel om nie inkopies vir die vale te doen nie, maar om eerder jou skuld te verminder en terug te keer na finansiële vryheid toe. Uit ons 2022- navorsingsresultate is dit duidelik dat winkelrekeninge die soort skuld is waarmee verbruikers hoofsaaklik agterstallig is. Ek moedig jou en jou mede-Suid-Afrikaners daarom aan om jul skuld-tot-inkomste-verhouding te bereken voordat julle dit oorweeg om geld uit te gee waarvoor julle nié begroot het nie óf wat julle nie werklik het nie.
“Om geldelike situasies in stand en ‘onder beheer’ te hou, is behoorlike skuldbestuur nou meer as ooit belangrik,” beklemtoon DebtSafe se woordvoerder en skuldadviseur, Carla Oberholzer.
Wat presies is ’n skuld-tot-inkomste-verhouding?
Jou skuld-tot-inkomste-verhouding, ook bekend as STI, is noodsaaklik wanneer dit by skuldbestuur kom. Dit vergelyk jou maandelikse inkomste-bedrag (bruto – voor aftrekkings) met hoeveel skuld jy het (die totale bedrag van jou maandelikse skuldverpligtinge, soos byvoorbeeld huur, jou huislening, kredietkaarte, voertuigfinansiering, jou winkelrekeninge of ander skuld).
Hoe bereken jy jou skuld-tot-inkomste-verhouding?
Die berekening in ’n neutedop:
. (+) Tel al jou maandelikse skuld op.
. (÷) Deel die bedrag met jou inkomste-bedrag voor enige aftrekkings (bruto salaris bedrag) en (x) vermenigvuldig dit met 100.
. (=) Jou totale/die finale persentasie (%) toon jou skuld-tot-inkomste-verhouding.
Oberholzer raai jou aan om voortdurend die berekening te doen sodat jy ingeligte keuses maak voordat jy jou geld (waarvoor jy so hard gewerk het) uitgee of wanneer jy krediet, oftewel die bank se geld, wil gebruik.
Wat die % kategorieë beteken & jou plan van aksie vorentoe:
’n Lae skuld-tot-inkomste-verhouding toon ’n gunstige balans tussen jou skuld en inkomste. In teenstelling hiermee, beklemtoon ’n hoë persentasie ’n meer riskante situasie as gevolg van die skuld wat jou bruto inkomste-bedrag oorskry. Watter van die volgende kategorieë beeld jou skuld-tot-inkomste-verhouding uit?
0-20% Skuld-tot-inkomste-verhouding-kategorie: Jou skuld, in vergelyking met jou inkomste-bedrag, word as goed bestempel. Daarom kan jy voortgaan om jou finansiële situasie te bestuur soos jy reeds doen. En, sou jy dit goeddink om deel te neem aan die komende inkopiegeleenthede, onthou om die volgende in gedagte te hou:
. Doen asseblief jou navorsing deeglik en maak seker dat dit wat jy koop werklik ’n winskopie is, dat jou begroting dit sal toelaat en dat die artikel nie as ’n “wil hê” beskou word nie.
. Aangesien jy vooraf jou navorsing gaan doen (oor pryse en artikels), is dit nie nodig om verskeie winkels en winkelsentrums te besoek nie (insluitend aanlyn besoeke via verskeie webtuistes). Moenie mislei word om méér te koop as wat jy kan bekostig nie.
In plaas daarvan, koop slegs wat jy nodig het, en bly uit die winkels uit (of vermy aanlyn koop- en winkelwebtuistes).
0-40% Skuld-tot-inkomste-verhouding-kategorie: Jou skuldbedrag in vergelyking met jou inkomste weerspieël ’n matige finansiële posisie. Oorweeg daarom om klein begroting-/leefstylaanpassings te maak om jou algehele skuldbedrag te verlaag.
41-60% Skuld-tot-inkomste-verhouding-kategorie: Hierdie persentasie-greep wys dat jy in riskante gebied begin beweeg. Oorweeg dit om aansienlike aanpassings te maak om jou algehele maandelikse skuldbedrag te verlaag.
En dit word nie aanbeveel dat jy deelneem aan enige komende “uitverkoping-geleenthede” of onbeplande inkopie-aangeleenthede nie.
60+% Skuld-tot-inkomste-verhouding-kategorie: Om ’n 60+ persentasie te bereik in jou berekening is kommerwekkend en is ’n aanduiding van oorverskuldigheid. Jou beste moontlike optrede is om ’n gemagtigde professionele persoon of entiteit te vind om jou te help terugkeer na ’n plek waar jy weer finansiële vryheid kan geniet. Om deel te neem aan enige Swartvrydag, Kuber-Maandag, of Swart-November “winskopie-van-die-jaar” vir aankope is ’n besliste nee.
Die bestuur van jou skuld is nie net onvermydelik nie, maar ook noodsaaklik gedurende die laaste paar maande van 2022.
Deur jou skuld-tot-inkomste-balans of -verhouding te bepaal voordat jy enige bykomende skuld aangaan (tydens komende aanloklike geleenthede), neem jy ’n belangrike stap in die rigting van ingeligte besluitneming en finansiële bemeestering.




