Ingevolge die Kinderwet moet enige sentrum wat na ses of meer kinders omsien, geregistreer word by die departement van sosiale en maatskaplike ontwikkeling.

Hierdie registrasievereistes is om seker te maak die kinders in ons land word gestimuleer, goed na omgesien en dat die gebou veilig is vir die aantal kinders.

Leer & Leef is deur die departement van sosiale en maatskaplike ontwikkeling aangestel om nasorgsentrums te registreer in Worcester- en Rawsonville-gebiede, asook omliggende gebiede en plase.

Leer & Leef registreer al die vroeë kinderontwikkeling- en nasorgsentrums in die Witzenberg- gebied sedert 2017. Hul uitgangspunt is om skole te help om binne die wet te funksioneer en om met alle rolspelers hande te vat sodat hulle ’n gemeenskap saam opbou wat opstaan vir ons kinders en net die beste vir hulle bied.

Hulle wil graag alle rolspelers en bestuurders van nasorgsentrums in die Worcester-en Rawsonville-gebiede uitnooi om die Leer & Leef- nasorg-registrasiespan te ontmoet op Maandag 7 Augustus by die NG Kerk Worcester-Vallei, Tulbaghstraat 150, Worcester van 10:00 tot 11:00.

Vir enige navrae kontak Magdél Botha by 079 775 9359 (projekbestuurder) of Berna Hugo by 082 044 1010 (registrasieveldwerker).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article