As alles volgens plan verloop, sal Worcester ’n ope werksessie vir die gemeenskap hou om die behoeftes rakende haweloosheid in die dorp deur te trap en moontlike oplossings te begin vind.
Die MeerAs-beweging, ondersteun deur die Worcester Business Improvement District (BID), sal Vrydag 15 Julie ’n werksessie aanbied en nooi almal wat insette het om te lewer, om dit by te woon.
Ds. Andri Eloff, een van die fasiliteerders, sê die werksessie word gereël omdat rolspelers besef het ’n deeglike behoeftebepaling sal eers gedoen moet word, en ’n holistiese benadering gevolg moet word, vir die oplossings om volhoubaar te wees.
Hy hoop om verteenwoordigers van die hawelose gemeenskap, geloofsgebaseerde groepe, die sakegemeenskap en besorgde inwoners met relevante vaardighede om een tafel saam met organisasies wat reeds ingeskakel het, te kry.
Hoewel die MeerAs-benadering (noodverligting, rehabilitasie, vaardigheidsontwikkeling en herintegrasie) as vertrekpunt gebruik word, sal rolspelers die geleentheid kry om waarlik na mekaar te luister en mekaar aan te vul wanneer oplossings geformuleer word.
Eloff beklemtoon dat die probleem vir die hele gemeenskap ’n belangrike een is om op te los. Die onsekerheid van die afgelope drie jaar het duidelik gewys dat ingrypende verlies enigiemand kan tref, maar ook dat mense bereid is om nuut te dink oor die wêreld waarin hulle wil leef – en vir hul kinders wil nalaat.
“Wanneer dit by haweloosheid kom, kan ek my nie indink dat mense so kan of wil leef nie. Die MeerAs-projek is vir die herstel van die waardigheid van alle mense, veral die waardigheid van mense wat in hawelose omstandighede leef.
“Ons wil met hierdie program mense uitnooi om dieper te kyk as dít wat hulle sien en ingevolge hul passie en vaardighede daarby betrokke te raak.”
Eloff rig ’n ope uitnodiging aan die gemeenskap om die geleentheid aan te gryp om saam ’n lewensvatbare oplossing vir ’n al groter wordende sosiale probleem te vind.
“Ons hoef nie die hele land se uitdagings die hoof te bied nie, maar dorp vir dorp is dit wel moontlik.”
Die werksessie word Vrydag 15 Julie van 10:00 tot 12:00 by die APD Breedevallei se kantoor op die hoek van Grey- en Kerkhofstraat gehou.
Mense wat wil deelneem, kan hul bywoning by ds. Andri Eloff by 083 654 3939 of Minette Botes by 072 391 3901 bevestig.





