Die Langeberg-skaakklub is gewoond daaraan om slim skuiwe te maak. Hul jongste skuif is nie op die skaakbord nie, maar in die gemeenskap.
Die klub beplan om binnekort ‘n gemeenskapsdiensprojek te begin om hul omgewing skoon te maak.
“Ons wil graag teruggee aan die gemeenskap en beplan dié skoonmaak- inisiatief in die Langeberg-omgewing – spesifiek gefokus op die omgewing van die Laerskool Dagbreek, die Laerskool De Villiers, die Laerskool Vergesig en Langeberg Sekondêre Skool,” sê Michael Edons, die voorsitter van die klub.
“Ons doel is om plastiekafval te versamel en ons gemeenskap skoon en mooi te hou. Ons wil deur hierdie projek omgewingsbewustheid, spanwerk en sosiale verantwoordelikheid onder ons skaakspelers bevorder. Deur plastiek op te tel, maak ons nie net ons gemeenskap skoon nie, maar toon ons ook ons waar- dering vir die skole wat ons ondersteun.
“Ons is trots om met ons skole en die plaaslike gemeenskap saam te werk om ‘n positiewe invloed te hê. Ons spelers sal saamwerk, plastiek versamel en ‘n tasbare verskil in die omgewing maak. Kom ons werk saam om ‘n skoner en groener Langeberg te skep!”
Die klub se leuse is nie verniet “Dien ons gemeenskap, een skuif op ‘n slag” nie.
Stuur epos aan Langebergchessclub@gmail.com om deel te wees van die projek en vir nog inligting oor die skaakklub.


