Schalk van Eeden, die uitvoerende burgemeester van die Langeberg-munisipaliteit.

“Ons het geluister na ons gemeenskappe se pleidooie vir beter lewensomstandighede.” Só het Schalk van Eeden, die uitvoerende burgemeester van die Langeberg-munisipaliteit, by sy voorlegging van die begroting vir die 2025-’26-boekjaar gesê.

Die begroting is op 28 Mei op ‘n raadsvergadering goedgekeur.

“Die nuwe begroting is ‘n belangrike stap vir ons op ons reis na groei, goeie bestuur en volhoubare ontwikkeling,” het hy gesê. “Ons begroting is belyn met die geïntegreerde ontwikkelingsplan se doelwitte en is gebou op die beginsels van finansiële verantwoordelikheid en deursigtigheid, met die doel om soveel waarde as moontlik uit elke rand wat ons bestee, te kry.”

Die begroting se klem is glo op dienslewering en infrastruktuur-ontwikkeling.

Eiendomsbelasting, water- en sanitasietariewe styg met 6%, vullisverwydering styg met 8% en die elektrisiteitstarief met 11,32% (onderhewig aan Nersa-goedkeuring). Diverse tariewe sal tussen 0% en 6% hoër wees.

Van die top-10-kapitaalprojekte vir die komende boekjaar sluit in die opknapping van die Robertson-suiweringswerke wat sanitasie-kapasiteit in wyke 1, 2, 3, 6 en 11 sal verbeter (R26,60 miljoen) en die verkryging van bakkies en ‘n vragmotor om dienslewering te verbeter (R21,96 m.). Die Breede-rivier-pompstasie in Ashton word opgeknap om watertoevoer na wyke 9, 10 en 11 te verbeter (R10,69 m.) en die 66kV-transformators by die Robertson-hoofsubstasie word vervang om die elektrisiteitsnetwerk te versterk (R8,62 m.). Die elektrisiteitsverskaffing in Boekenhoutskloof word uitgebrei vir wyk 4 (R7,2 m.) en die Bonnievale-watersuiweringswerke word opgeknap om watergehalte in wyke 4 en 8 te verbeter (R6 m.). Die Van Zylstraat-sportveld word opgeknap (R5,7 m.) en die dele van wyk 1 en 2 in Robertson word opgeknap (R3,4 miljoen).

‘n Nuwe paviljoen word by die McGregor-sportveld in wyk 5 opgerig (R3 m.) en paaie in Ashton, wat paaie in woonbuurte, die nywerheidsgebied en Zolani insluit, word opgeknap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article