Dit is weer tyd om oor munisipale geldsake te praat.

Die Langeberg-munisipaliteit het sy voorlopige begroting vir die 2025-’26-boekjaar op 26 Maart voorgelê en inwoners het tot 9 Mei om hierop te reageer. Die nuwe tariewe sal van 1 Julie af geld.

Die munisipaliteit se totale begroting is R1 372  214  802, wat bestaan uit ‘n kapitale begroting van R133  418  190 en ‘n bedryfsbegroting van R1  238  796  612.

Die voorgestelde verhoging in tariewe lyk soos volg: Elektrisiteit (11,32%, hangende goedkeuring deur die energiereguleerder, Nersa), water (6%), sanitasie (6%), vullisverwydering (8%), allerlei tariewe (0% tot 6%).

Die munisipaliteit se verhoging in uitgawes is 6% vir salarisse (per kollektiewe ooreenkoms), algemene uitgawes styg met 4%, herstelwerk en onderhoud styg met 4% en grootmaat aankope (soos water en elektrisiteit) styg met 11,32%.

Die uitvoerende burgemeester, Schalk van Eeden, verduidelik dat die munisipaliteit ‘n balans moes vind tussen ekonomiese groei en ondersteuning aan die mees weerlose inwoners, te midde van bronne wat onder druk verkeer.

“Die begroting mik om ekonomiese aktiwiteit te stimuleer deur beleggings in infrastruktuur,” sê hy.

Die munisipaliteit se mikpunt vir kapitale uitgawes in die komende boekjaar is R133  418  190, in lyn met sy infrastruktuurontwikkeling-doelwit. Dit sluit bydraes uit sy eie fondse asook toelaes van nasionale en provinsiale regerings in.

Sowat 70% van Langeberg se totale inkomste kom van dienste.

Eiendomsbelansting dra R106  955  586 by.

Huishoudings wat minder as R4 700 per maand verdien, kan as behoeftig registreer. Die 7 000 behoeftige huishou- dings ontvang 50 eenhede gratis elektrisiteit, ses kiloliter gratis water en gratis riool en vullisverwyderingsdienste. Dié gratis dienste beloop R60  318  743.

Die toptien- kapitale-uitgawe-projekte wat beplan word, is die opgradering van die afvalwater-aanleg in Robertson (R26  411  307), opgradering van die Breederivier-pompstasie na Ashton (R10  605  172), vervanging van 66 KW-transformators van die hoofsubstasie in Robertson, (R8  625  000), elektrifisering van Boekenhoutskloof in Bonnievale (R7  195  690), aankoop van bakkies en vragmotors vir al die dorpe (R21  960  000), opgradering van watersuiweringswerke in Bonnievale (R6  000  000), opgradering van Alwynstraat en strate in die nywerheidsgebied en Zolani Curbs in Ashton (R4  223  767) en die opgradering van die Van Zylstraat-sportterrein in Robertson (R5  635  776). Die busroete in Nkqubela sal opgegradeer word (R3  448  276) en ‘n pawiljoen sal by die McGregor-sportterein opgerig word (R3  000  000).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article