Langeberg-munisipaliteit stem nie saam met petisie-bewerings nie

Die Langeberg-munisipaliteit in Robertson.

Die Langeberg-munisipaliteit het gereageer op ‘n petisie wat ‘n groep sakelui en inwoners op 7 Augustus aan die uitvoerende burgemeester, die raadsheer Schalk van Eeden, oorhandig het.

In die petisie het die groep sy kommer uitgespreek oor foutiewe rekeninge wat groot kragverbruikers duur te staan kom en die munisipaliteit se inkomste kan beïnvloed. Hulle is ook bekommerd oor hoe die nuwe munisipale rekeningkundige stelsel, wat aan CCG Systems toegeken is, opgestel is. Die volhoubaarheid van die munisipaliteit se geldsake is ‘n kwelpunt en hulle vra vir beter kommunikasie van die munisipaliteit af.

In reaksie het Van Eeden verlede week prosedurale probleme met die petisie uitgelig, wat die duplisering van handtekeninge insluit, asook handtekeninge wat nie ‘n naam of adres aandui nie. Elke handtekening moet glo ‘n munisipale rekeninghouer verteenwoordig en in een huishouding sal slegs die rekeninghouer se handtekening getel word. Van diegene wat geteken het, woon glo nie in die munisipaliteit se gebied nie. Hy het gevra dat dié kwessies opgelos word om ‘n ware weerspieëling te gee van hoeveel mense die petisie ondersteun.

Wat die groep se versoek betref – dat die oorspronklike aanbieding oor die CCG-stelsel in die volgende vergadering weer aan die raad gegee word, het Van Eeden geskryf ‘n verslag oor die vordering met die nuwe ondernemings- hulpbronbeplanning-stelsel (ERP) word sedert 26 Maart op elke raadsvergadering voorgelê.

“Die raad het reeds eenparig besluit dat die administrasie toegelaat moet word om sy prosesse te volg om die ge­bruik van die diensooreenkoms met CCG Systems te bestuur.”

Stappe om regstellings te doen, is glo reeds ingestel en die vordering daarvan word dopgehou.

Die eis dat ‘n volledige en onafhanklike ondersoek gedoen word na die proses om die CCG-stelsel in gebruik te neem, is ook deur Van Eeden van die hand gewys.

“Die proses om CCG Systems aan te stel, was in pas met die stelsel wat die raad vir die bestuur van die voorsieningsketting goedgekeur het. Die aanstelling is reeds deur die ouditeur- generaal, wat ‘n onafhanklike en geloofwaardige oudit-instansie is, geoudit. Geen ongunstige ouditbevindinge is gemaak nie,” sê hy.

Die provinsiale en nasionale tesourie het ook geen ongunstige kommentaar gehad nie. Hy sê in die lig daarvan sal ‘n verdere ondersoek ‘n vermorste en vrugtelose uitgawe wees.

Die petisie se bewering dat die begroting en finansiële uitslae ‘n agteruitgang in finansiële bestuur toon, is deur Van Eeden verwerp. Hy sê Langeberg is een van die 30 munisipaliteite wat die laagste gefinansierde skuld het en is ook nie op die lys is van munisipaliteite wat ongefinansierde begrotings het nie.

“Ten spyte van die uitdagende ekono­miese omstandighede maak die munisipaliteit hoofsaaklik staat op eie finansiering met minder as 20% van sy totale bedryfsbegroting wat uit toelaag- finansiering kom.”

Die Langeberg-munisipaliteit het onlangs sy sesde skoon oudit uit altesaam 13 skoon oudit-toekennings ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article