Alle paaie lei weer hierdie Saterdag (8 November) na Bolandpark in Worcester wanneer die plaaslike Grootuitdaagklub in die Langeberg-afdeling van die Boland-rugbyunie, Villagers Worcester (Villa), die laaste keer hierdie seisoen die geleentheid voor sy tuisskare sal kry om op ‘n gepaste wyse vir sy duisende lojale ondersteunerskorps dankie te sê vir hul volgehoue ondersteuning hierdie seisoen.

Villa het verlede Saterdag weer eens bewys dat hy oor hope big match temperament beskik toe hy Wesbank in Malmesbury in ‘n uitstekende naelbyt-stryd met 36-33 geklop het. Villa het sodoende feitlik seker gemaak het dat hy vir die derde agtereenvolgende jaar na die halfeindronde van die prestigeryke Top-12-kompetisie in Wellington deurdring.

Saterdag kom Villa teen die Van Rhynsdorp Eagles te staan, terwyl sy bure, Robertson Town (die verdedigende Top-12-kampioenspan), ná sy sege van 80-12 oor Abbotsdale, ook van die Swartland, op die Van Zylstraatstadion in Robertson teen die spogspan, Saldanha, te staan sal kom.

In die ander wedstryd wat groot belangstelling gaande maak, kom vanjaar se verrassing, Botrivier, op sy tuisveld in sy tuisdorp teen die ander Weskusspan, Vredenburg, te staan.

Al drie wedstryde begin om 17:00.

In ander wedstryde kom die ander Swartlandspan, Wesbank, op sy tuisveld in Malmesbury teen Witzenberg se Roses United te staan, terwyl Delicious van Clanwilliam op sy tuisveld te staan kom teen die ander Witzenbergspan, Hillcrest United. Abbotsdale van Swartland geniet ook tuisveld-voordeel in sy kragmeting teen Safcol United uit die Overberg-streek.

Al drie wedstryde begin om 15:00.

Geesdriftiges in die Langebergstreek word uitgenooi om Saterdag in hul hordes op Bolandpark op te daag om Villa op gepaste wyse te bedank vir die groot genot wat sy spel en deelname in veral die Top-12-kompetisie vanjaar verskaf het. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article