brandseisoen
Wêreldbrandveiligheidsdag word vandag, 8 Oktober gevier.

Wêreldbrandveiligheidsdag word vandag, 8 Oktober herdenk.

As deel van die dag se herdenking het die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) sy rol in die bestuur van brande herbevestig.

Luidens ‘n verklaring sê die KWDM dat hy, in vennootskap met die natuurbewaringsowerheid Cape Nature, verantwoordelik is vir die bestuur van brande wat alle velde, reservate en landelike gebiede oor die distrik heen affekteer.

“Die bekamping van wegholbrande en die beskerming van lewens en hul bestaan word nooit deur ‘n individuele span of organisasie behartig nie. Dit kan slegs gedoen word deur geïntegreerde beplanning en die samevoeging van kennis en hulpbronne van ‘n verskeidenheid rolspelers voor, gedurende en ná ‘n brand,” meen KWDM se brandweerhoof, Wayne Josias.

brandveiligheid
Die KWDM, in vennootskap met die natuurbewaringsowerheid Cape Nature, is verantwoordelik vir die bestuur van brande wat alle velde, reservate en landelike gebiede oor die distrik heen affekteer.

Brande en die gevolge daarvan is ‘n tragiese, maar ‘n bekende werklikheid vir baie in die Kaapse Wynlande. Daar is wel manière om jou huis, gewasse en die lewe van jou geliefdes te beskerm deur sekere basiese praktyke toe te pas, verseker die munisipaliteit.

Brandbane en die verwydering van droeë bosse, verouderde plantegroei rondom boorde, store en ander geboue kan verliese weens ‘n brand beperk. Grondeienaars moet seker maak brandbane word deurgaans onderhou.

“Nie alle veldbrande is sleg nie,” voeg Josias by. Die unieke fynbos eie aan die KWDM, wat die Proteaceae en Ericas insluit vorm deel van ‘n brandgedrewe ekosisteem waar brande vir die regenerering van die spesies, voordelig is.” Hy voeg by die spesie trek wel slegs elke 12 tot 15 jaar voordeel uit hitte, veroorsaak deur veldbrande.

Sommige veldbrande kom keer op keer in gebiede voor waar daar sosiaal verkeer word. Die brande lei tot die brand van ‘n jong veld waar die plante nog nie hul volwassenheid bereik het nie. Wanneer brande wel voordelig is, sal dit saam met Cape Nature gemonitor word om seker te maak die brande versprei nie en hou nie ‘n bedreiging vir die delikate ekosisteem in nie.

Verouderde bloekom -en denneplantasies, gebiede wat nie onderhou word nie, oop en onbewoonde lande, indringer plantegroei en onwettige storting van afval bly problematies vir brandbestryders.

“Ou plantasies, wat normaalweg tussen boorde aangetref sal word, veroorsaak spesifieke probleme. Die ou bas tesame met die blare en stompe agtergelaat na die afkap van bome vorm die perfekte kole vir brande. Daarom is dit noodsaaklik vir hierdie spesifieke gebiede om skoon te bly met geen droeë plantegroei in die omtrek nie.

Stukke grond wat nie onderhou word nie, word gewoonlik teen formele of informele woonbuurte aangetref en hou dus gevaar vir lewens in.

“Indringerplante soos die bekende Port Jackson brand teen ‘n baie hoë temperatuur,” waarsku hy. Die gevaar vorm wanneer houtkappers slegs die boom vir sy hout gebruik en gevolglik talle kleiner takke en onbehandelde stompe agterlaat. Die stompe groei nie net weer nie, maar vorm ‘n sambreel met sy dun takke wat nie maklik penetreerbaar is nie. Wanneer ‘n brand in die digbebosde “sambreel” voorkom, kan die spanne nie die brand met hul waterpype bereik nie. Brandbestryders moet gevolglik wag tot die brand ‘n oop gebied bereik voor daar met brandbestryding kan voortgaan.

Onwettige storting en indringerplante plaas ‘n verdere demper op pogings van brandbestryding, omdat die oppervlak gewoonlik ongelyk, sanderig of rotsagtig is. Die gebiede is moeilik bereikbaar of bloot gevaarlik.

“Soos ons toekyk op die komende brandseisoen, herdenk ons vandag Brandveiligheidsdag. Dit is nie te laat om voorbrand te maak nie. Grond -en huiseienaars, veral dié wat naby natuurlike habitatte woon, het steeds genoeg tyd om die gebiede rondom hulle wonings en erwe skoon te maak. Eienaars van onbewoonde grond moet seker maak alle indringer plantegroei en afval is verwyder. Saam kan ons dié komende brandseisoen ‘n veilige een vir al ons inwoners, diere en die pragtige natuurlike omgewing om ons maak,” sluit die uitvoerende burgemeester van die distrik, Dr Elna von Schlicht af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article