Watter belewenis om te kon luister na die melodieuse klanke van die Kersfeeskoororkeste by die Kaapse Wynland-Kersfeeskoorkompetisie.
Die orkeste het van reg oor die streek – Wellington, Robertson, Wolseley, Rawsonville, Tulbagh en Ceres – gekom om hul talente op Worcester te kom ten toon stel en hul beste voetjie voor te sit.
Hierdie jaar se kompetisie op Esselenpark is aangebied deur die oudste Kersfeeskoororkes van Worcester, The Fleet.
Dié groep is in 1947 gestig deur Africa “Appie” Fisher en Daan Appolis en vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar.
Vir talle plaaslike mense maak dié kompetisie deel uit van die kultuur van Worcester. Ouma, oupa, ma, pa en kinders het hiermee grootgeword. Net soos in sport, is toewyding en dissipline belangrik met optredes by dié koorkompetisies, en gaan dit nie net bloot oor ’n perfekte toonhoogte nie.
Die hoofrede waarom die The Fleet destyds gestig is, was om musikante met Christelike waardes bymekaar te kry om verskillende kerke te besoek en sangmiddae aan te bied. Dit was voordat daar sedert die 1950’s teen mekaar meegeding is.
Fisher het destyds geweet waarheen hy op pad was en het ook een van die beste musiekafrigters gehad in John Brown. Brown kon die beste uit sy musikante kry. ’n Leier in snaarinstrumente, het hy die ander kore laat les opsê.
Net soos die lede van die blaasorkes hulle in die speel van hul instrumente inleef, leef hul lojale ondersteuners – meestal familie – hulle ook op die hoofpaviljoen in.
Wanneer die orkes buite Worcester, speel, kom almal by die ou Tip Top op die hoek van Le Sueurstraat bymekaar. Met hul terugkeer, loop die wenners dan hiervandaan om ’n oorwinningsrondte te doen en dankie te sê aan hul ondersteuners.
By die afgelope Sondag se byeenkoms het die Cerecians van Ceres die Tiny Tots-afdeling gewen en St Blues van Robertson die solo-afdeling, met Wellington in die tweede plek en The Fleet in die derde plek.
The Fleet het ook die junior afdeling gewen en is aangewys as die algehele wenner van die kompetisie.
Vandag is daar nie meer baie van die destydse lede oor nie, maar een van hulle wat wel daar is, Stan Fortuin, bespeel al meer as 50 jaar aktief sy trompet. Hy help ook met die skryf van musiek en opleiding van musikante.
The Fleet reël ’n groot makietie vir sy 70ste bestaansjaar. Daar sal later in die jaar ’n diens gehou om oudlede wat oorlede is te herdenk. Die program sal later bekend gemaak word.





