Kunsuitstallings in die Breedekloof-area het die afgelope naweek ’n nuwe rigting ingeslaan toe die eerste kontemporêre kunsuitstalling by Slanghoek Mountain Resort begin het.
Dié uitstalling, wat vir die volgende twee weke sal voortduur, is volgens Carien Langeveldt, organiseerder en kunskonsultant, iets nuuts en anders vir die kunsliefhebbers van die Breedekloof.
“Ons wil mense en ook kunstenaars blootstel aan kontemporêre kuns, anders as die tradisionele werke. Maar ook om vir mense te wys kontemporêre kuns kan jou voldaan laat voel en dat die plaaslike kunstenaars ook werk van internasionale gehalte doen,” voeg Langeveldt by.
Deel van die uitstalling is die reeks van abstrakte (pixelated) portrette van pleegkinders, Till we have Faces, deur Corné Theron. Sy is van die organisasie Hoopvolle Toekoms. Die portrette is pixelated omdat die pleegkinders se identiteit beskerm moet word.
“Die portrette moet mense laat dink oor watter sisteme ons onsself aan onderwerp. ’n Mens begin byvoorbeeld ’n besigheid met ’n goeie doel, maar later word dit ’n sisteem en die sisteem word dan belangriker as die mense en die mense verloor hul kreatiwiteit, individualiteit en belangrikheid. Net so ook die maatskaplike sisteem. As dit nie reg bestuur word nie, word die sisteem groter as die mense,” verduidelik Theron.
Volgens Theron speel Hoopvolle Toekoms ’n ondersteunende rol vir die maatskaplike werkers in die gebied.
“Ons het maandelikse werksessies vir die kinders en pleegouers in verskeie lewensareas.
“Ons sal byvoorbeeld dieetkundiges of arbeidsterapeute kry vir hierdie werksessies,” voeg sy by.




