Wat laat jou wyndruifwingerd uitstaan bo die res?

Mense wat dit graag wil weet, kan kom kyk na die beste wingerdpraktyke in die Worcester- en Breedekloof-streek op VinPro en Winetech se jaarlikse Blokkompetisie-boeredag.

Die Boeredag word op 24 Januarie om 09:00 by Daschbosch-kelder gehou, gevolg deur ’n besoek aan die streek se top-wingerdblok.

Met Shiraz as tema het LP Moller van die plaas Voorsorg buite Rawsonville vanjaar met die louere weggestap.

Bruno Suter van Crush Alba was tweede en Jannie du Toit van Swartwalle in die derde plek.

“Die doel met die jaarlikse evaluering in die onderskeie streke is om erkenning aan produsente te gee wat beste praktyke in hul wingerd toepas, en om deur die boeredae ook hierdie praktiese wenke en tegnologie met die res van die bedryf te deel,” vertel Pierre Snyman, VinPro-wingerdboukonsultant en sameroeper van die beoordelaarspaneel.

Die geselligheid by Daschbosch sluit aanbiedings oor effektiewe witluisbeheer, die gebruik van LalVigne® AROMA in wingerde, asook die benutting van Fruitlook as bestuurshulpmiddel in.

Die besoek aan die wenblok word ingelei deur ’n vergelykende wynproe van verskillende Shiraz-style en afgesluit met ’n middagete.

Om die Boeredag by te woon is gratis, maar mense wat wil kom kan net vooraf bevestig by Soria Muir by 023 347 1566 of e-pos muirs@vinpro.co.za om ’n sitplek te verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article