Vier Worcester-skrywers het deel aan ’n nuwe boek Ons kom van ver, wat handel oor bruin mense se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans in hul stryd teen apartheid.

Die Worcesteriete wat saam geskryf het, is Charles Beukes, dr. Danny Titus, die oudburgemeester Basil Kivedo en die apartheidsaktivis Cecyl Esau.

Vir die bekende akademikus, opvoedkundige, taalaktivis en skrywer van die Universiteit Stellenbosch, dr Michael le Cordeur, is die bekendstelling van dié boek nog ’n mylpaal in sy loopbaan. Hy is die inhoudsredakteur.

Sy goeie vriend, prof. Wannie Carstens, was die taalredakteur.

In die boek van 600 bladsye het altesaam 35 skrywers en akademici onder sy leiding gestalte gegee aan inhoud waaraan hy “die afgelope jaar dag en nag gewerk het en hom aansienlik ouer en gryser gemaak het.”

Waarom so ’n boek? Le Cordeur vertel dat hy en sy goeie vriend Wannie Carstens die storie van Afrikaans meer volledig wou vertel as wat tot dusver die geval was.

Dit was problematies want die storie van Afrikaans het in die verlede meestal gefokus op die taal se wit geskiedenis, terwyl die taal se bruin en swart geskiedenis misken is, sê hy.

Beukes skryf ’n boeiende hoofstuk getiteld Geen normale sport in ’n abnormale samelewing oor hoe sport gebruik is in die stryd teen apartheid.

Kivedo vertel hoe hy die stryd teen apartheid as MK-soldaat in Afrikaans gevoer het en sy vrou en tweelingdogters moes agterlaat.

Die rugbyklub Young Hamiltons (Hammies) – alombekend as die “people’s club” – sê hulle voel geëerd om deel te wees aan die gevierde publikasie.

In dieselfde hoofstuk oor sport skryf dié sportsosioloog en skrywer oor die eindelose uitdagings wat die sportkode in die bruin en swart gemeenskappe onder apartheid moes beveg.

Dit het ingesluit geen borgskappe, minderwaardige sportgeriewe, asook gebrekkige ontwikkeling en kompetisiegeleenthede vir talentvolle deelnemers.

Hy haal Hammies se sosiale mediabestuurder en speler, Charljon Beukes, aan wat in ’n ode aan (sy klub se) blou trui sò oor gemeenskapsport onder apartheid skryf “…vir ons ondersteuners was dit [ons sport- samekomste] ’n lig in hul donker wêreld, ’n verligting van die alledaagse uitdagings [ten opsigte van apartheid] as hulle vir een dag in die week kon vergeet van alle probleme en net langs die [sport] veld kon wees om hul gunstelinge in aksie te sien.”

Hierdie aanhaling onderskryf die groot rol wat sport in daardie jare gespeel het om gemeenskappe byme-kaar te hou en konstruktiewe vermaak te verskaf te midde van diskriminasie op alle gebiede. Die tema wat soos ’n goue draad regdeur die hoofstuk loop.

Danny Titus argumenteer dat Afrikaans te lank gesien is as ’n taal van ’n homogene (wit) kultuur, terwyl ander Afrikaanssprekendes moes toekyk hoe húl bydraes en leefwêrelde in hul moedertaal ontken word.

Cecyl Esau vertel hoe hy as onskuldige Afrikaanssprekende boorling van Worcester op die Universiteit van Wes-Kaapland by die 1976-opstand betrokke geraak het. Dit het gelei tot sy aanhouding eers in die Victor Verster-gevangenis en later op Robbeneiland, waar hy vir Nelson Mandela ontmoet het.

Le Cordeur self skryf vyf hoofstukke, onder meer “Bruin mense se bydrae tot hul eie taal,” “Die rol van bruin mense in die 100-jarige bestaan van die Afrikaanse media” en “Die invloed wat die 1976-opstande op hom (toe nog in matriek) gehad het.”

Die ander skrywers sluit in Small se weduwee Rosalie, Fatima Allie, Herman Bailey, Jacques Beukes en Willa Boezak.

“Met hierdie boek wou ons die situasie regstel deur aan te toon dat bruin mense se verbintenis met Afrikaans inderdaad van ver af kom.”

Volgens Le Cordeur is die boek se grootste waarde dat dit die stigma dat bruin mense nie ’n stem het oor Afrikaans of ’n bydrae te maak het tot Afrikaans nie, weerlê. Die skrywers toon aan dat Afrikaans nie net die taal van apartheid was nie. Afrikaans is ook die taal van die struggle en versoening.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article