Robertson Town se rugbyspan vier hul oorwinning.
Die Robertson Town-span nadat hy sy buurman en gasheer vir die dag, Rangers Robertson, in hul Sanlam-Boland-rugbyderby-wedstryd met 51-19 afgeslag het. Die kragmeting is in die Van Zylstraat-stadion beslis. Tweede van links op die foto is Jumainuine Arendse (Town se kaptein) en derde van regs Elroy Matthys, ‘n Boland-amptenaar, wat die wenprys oorhandig het. Foto: Robertson Rugby Football Club Facebookblad

Die Boland-rugbyunie se klubkampioen, Robertson Town, het die afgelope Saterdag (12 April) heeltemal te veel skietgoed vir sy buurman, Rangers Robertson, gehad.

Die twee het mekaar die afgelope Saterdag in die Van Zylstraat-stadion in ‘n Sanlam-Boland-rugbyderby-kragmeting gepak. Dit was terselfdertyd ook hul eersteronde-Grootuitdaagbekerligawedstryd.

Town beklee tans die tweede posisie op die Groot-uitdaagbeker-punteleer in die Breë-Langeberg-afdeling terwyl Rangers nog spook om van die onderste trappie van die leer af op te klim.

Town het die botoon in die kragmeting gevoer en was teen rustyd al 29-0 voor. Danksy drieë deur Lindsay Eksteen (linkervleuel), Freginald Africa, (flank, 2) en Isaiah Davids (skrumskakel) was die bonuspunt vir vier of meer drieë met waterdrinktyd reeds veilig in die sakkie. Nadat die spanne kante geruil het, het Rangers egter met mening begin terugveg. Hy het alles in die stryd gewerp en groot veggees getoon, maar kon nie teen die bulspan van Town die mas opkom nie.

Aan die einde van die dag het Town, wat die besoekers was, sy gasheer met ‘n vernederende nederlaag van 51-19 afgeslag en met die Sanlam-prysgeld van R2 000 weggestap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article