Die ontwikkeling van die nuwe streekstortingsterrein in Worcester vorder fluks, met dié groot projek wat na verwagting in Julie vanjaar voltooi sal wees en in Januarie volgende jaar in bedryf gestel word.
Die grootte van dié nuwe terrein is 110 000 m² –sowat drie keer groter as die Mountain Mill Mall, verduidelik Christo Swart, adjunk-direkteur van projekte van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM). Dit is reg langs die huidige stortingsterrein geleë.
Die KWDM ontwikkel die terrein teen ‘n koste van R104 miljoen, omdat die ou stortingsterrein die einde van sy leeftyd nader. Die vullis van dorpe in die Breedevallei-, Langeberg- sowel as Witzenberg-munisipaliteite word hier gestort – hulle dra by om die koste van die ontwikkeling te dek.
Volgens Swart het die nuwe terrein vier lae plastiekvoering om te verhoed dat grondwater besoedel word en voldoen dit aan wetgewing om die omgewing te beskerm. Dit is omhein en word deur wagte beveilig. Die ontwikkeling bestaan, benewens die stortingsterrein, uit kantore, ‘n parkeerterrein en ‘n werkswinkel waar voertuie en masjinerie herstel kan word. Die terrein het sy eie rioolwerke en sonkrag sal die elektrisiteit voorsien.
Die geraamde leeftyd van die stortingsterrein is sowat agt jaar. Daar is voorsiening gemaak vir nóg vier sulke selle.
Die terrein sal slegs materiaal wat nie herwinbaar is nie, aanvaar. “Dit is belangrik dat inwoners hul vullis tuis reeds begin sorteer. Dit is ‘n provinsiale teiken dat daar teen 2027 nie meer enige organiese afval op die stortingsterreine aanvaar word nie,” het Swart verduidelik.
Die Langeberg-munisipaliteit se herwinning is reeds goed op dreef met sowat 60% van hul afval wat herwin word. In Mei 2024 is ‘n fasiliteit om hiermee te help teen ‘n koste van R19 miljoen geopen. Binne slegs nege maande het dit reeds ‘n raps meer as R1 miljoen ingevorder deur die sortering, baling en herwinning van materiale.
Herwinningsfasiliteit
Die Breedevallei-munisipaliteit bestuur die herwinningsfasiliteit langs die stortingsterrein. Volgens die BVM se voorlopige begroting wat onlangs bekend gemaak is, word aangedui dat die tarief vir vullisverwydering met 25% styg. “Die huidige tarief sluit slegs die verwydering van inwoners se vullis in. Die munisipaliteit betaal ook nou om die vullis te gaan stort. Inwoners moet besef vullis is duur – ons betaal per gewig en hoe ligter die vrag is, hoe goedkoper is dit,” het Saskia Langner van BVM verduidelik. Sy het benadruk dat inwoners reeds tuis hul vullis moet begin sorteer.
Die munisipaliteit gaan ook stappe doen om herwinners te formaliseer.
Beide die BVM en die KWDM sal tenders uitsit vir diensverskaffers om die die terreine namens hulle te bestuur.






