WORCESTER. – Vyftig jaar nadat hulle die skoolbanke verlaat het, het ‘n groep oudleerders van Worcester Gimnasium weer heerlik saamgekuier.
Die matriekklas van 1975 het ná baie beplanning vir dié groot reünie van 12 tot 14 September by Worcester Gimnasium byeengekom.
Die skool het sy oorsprong reeds in 1872 gehad. Die oorspronklike seuns- en meisieskole het later saamgesmelt en Worcester-Oos Hoërskool (voorheen die handelskool) is ook bygevoeg om Worcester Gimnasium te vorm.
Dié groep leerlinge was die laaste standerd 6-klas (gr. 8) van Worcester Boys High en Girls High.
Hulle het al voorheen 20 jaar-, 30 jaar- en 40 jaar-reünies gehou. In Mei verlede jaar het vier van die klasmaats in Stellenbosch bymekaargekom en begin om die vyftigste reünie te beplan. Dit was ‘n groot uitdaging om almal weer op te spoor. Van die oudleerders het gehelp met geld vir die reünie en borge is ook genader.
Die groep het die Vrydagaand by die Worcester Gimnasium se klubhuis byeengekom waar die klasmaats en oud-onderwysers saamgekuier het. Die Saterdag het die groep ‘n wynproe-geleentheid by Nuy-kelder bygewoon en die Sondag het hulle mekaar weer gegroet.
Die groep het besluit om in die skoolsaal, waar hulle 50 jaar gelede “parade” gehou het, ‘n program met die tema “Paradedag September 1975” aan te bied.

Een van die klasmaats het ‘n klankopname van ‘n parade wat in September 1975 gehou is, in die hande gekry. Dié klankopname se gehalte is deur ‘n klankingenieur verbeter en hulle kon weer daarna luister.
Die program is weer nagevolg – feitlik soos dit 50 jaar gelede was. Die groep het met die sing van Worcester Hoërskool se skoollied geopen. Dit is gevolg met hul matriek-lied, “Come what may”, met begeleiding deur Helga Beyers. Sy was ook in 1975 die pianis.
Attie du Plessis, wat 50 jaar gelede ook die skriflesing gedoen het, het dit op die geleentheid weer soos van ouds gedoen. ‘n Stemopname van Dirk Snyman (wat reeds oorlede is) se groot brag is gespeel en die hoofmeisie van 1975, Hettie Hugo Normand, het iets gesê.
Dit is gevolg deur ‘n in memoria-item waar klasmaats en oudonderwysers wat reeds oorlede is, gedenk is deur kerse vir hulle aan te steek.
Nico Olivier, ‘n oud-onderwyser, het ook met die groep gepraat.
Van die 102 klasmaats het 56 die reünie bygewoon. Altesaam 16 kon nie die geleentheid meemaak nie en 14 van hulle kon nie opgespoor word nie. Sover bekend is 16 reeds oorlede.






You must be logged in to post a comment.