‘n Gebytery in ‘n skrum het ‘n rugbyklub in Worcester genoop om ‘n klag van onsportiewe gedrag by die Boland-rugbyunie (BRU) aanhangig te maak.
Andries de Kock van Villagers Worcester is in die tweede helfte van die wedstryd op Saterdag 17 Mei teen Montagu-klub aan die bo-arm gebyt.
Volgens Villagers se klagte is hy “opsetlik en doelbewus op sy arm gebyt in die hoop dat hy die veld sou verlaat”.
De Kock het glo onmiddellik aan die kaptein gewys wat gebeur het en die speler wat hom na bewering gebyt het, uitgewys. Dit is onder die aandag van die skeidsregter gebring, wat na die wond gekyk het, maar gesê het omdat hy nie gesien het hoe De Kock gebyt word nie, kan hy nie die ander speler straf nie.
Ná die voorval wou Villagers se spelers nie verder teen Montagu speel nie. Die BRU se kompetisiereëls bepaal egter dat spanne wat nie ‘n wedstryd voltooi sonder dat die skeidsregter dit beëindig het nie, aan tugstappe onderworpe sal wees. Hulle het dus verder gespeel.
In sy klagte, wat op 20 Mei aangemeld is, versoek Villagers dat die skuldige speler voorkomend geskors moet word hangende sy tugondersoek. Hulle wil ook hê dat die Montagu-klub die mediese uitgawes wat De Kock moes aangaan, moet dek.
“Die BRU het ‘n regtelike verpligting om te verseker dat die gees van die reëls van rugby nagekom word en vuil en ongeoorloofde spel ontbloot word,” skryf Piet Hermanus, die sekretaris van die Villagers, in die klagte.
De Kock het aangedui indien die BRU nie sterk teen die skuldige optree nie, hy nie verder gaan rugby speel nie.
Villagers het die klagte Dinsdag 20 Mei aangemeld.
Pat Marran, die onderpresident van die BRU, het by navraag gesê hulle doen ‘n ondersoek oor die beweerde voorval. “Die uitkoms sal bepaal of daar optrede deur die Bolandse dissiplinere komitee teen enige persoon of speler sal wees. Hoewel ‘n naam genoem word, is daar tans geen bewyse dat dié persoon wel verantwoordelik is vir die toedien van die wond nie, daarom die rede vir ondersoek. Daar kom vuilspel in enige sportsoort voort en dit is nie beperk tot BRU se klubrugby nie. Daar is egter reëls wat bepaal hoe met vuilspel op en weg van die veld af gehandel word. Onthou – skeidsregters blaas vir wat hulle sien en nie vir wat hulle hoor [of aan hulle vertel word] nie,” sê Marran.
• Standard & Gazette weerhou die naam van die speler wat van bytery beskuldig word, hangende die ondersoek.





