Dit was nog altyd my droom om soos die spreekwoordelike arend oor Worcester te vlieg. Ek hoor hoe dreun die vliegtuie se enjins oor die dorp.
In my verbeelding sit ek agter die stuur van ’n sweeftuig of Worcester Vliegklub se vliegtuig die natuurskoon en bewonder; weg van alledaagse kwellinge soos fases beurtkrag, lae bankrekeningsaldo’s en hoë rentekoerse.
Dit moet asemrowend mooi wees om oor die vallei te vlieg en plekke soos die Brandvleidam, die Slanghoekvallei, die berge en omliggende dorpe soos Rawsonville, De Doorns, Montagu en Robertson uit ’n ander hoek te aanskou.
In my verbeelding sien ek hoe vlieg ek op ’n wolklose, windstil dag. Die passasiers is besoekers wat nog nooit ons pragtige omgewing gesien het nie. Ander tye is die passasiers tieners van verskeie plaaslike skole wat die vlug meemaak as beloning vir uitmuntende prestasies.
En ek hoor sommer hoe “oe” en “ah” hulle oor die mooi uitsig – veral oor die bergreekse.
Ons sien elke dag die berge om ons; in al sy skakerings kleure.
Dis egter ’n heel ander ervaring om die berge en dale vanuit die lug te sien.
Verder moet dit ook baie vinniger wees om Kaapstad toe te vlieg, om ’n aand of naweek by vriende en familie te gaan kuier of om ’n teaterproduksie te gaan kyk.
Dan kort ’n mens jou eie vliegtuig, want die klubvliegtuig is oor naweke nogal besig. Dit trek gereeld sweeftuie in die lug op.
Ek onthou nog my laaste vlug soos gister, hoewel dit in Januarie 1981 was. Die vlieënier, Neil de Kock, het my oor Montagu geneem sodat ek foto’s van die vloedskade kon neem.
Die verwoesting en skade was hartverskeurend. Dit was die dag van die vloed wat tot die verlies van soveel mense in Laingsburg gelei het.
Al die aandag was destyds op Laingsburg en min mense het besef Montagu was ook van die buitewêreld afgesny. Proviand en ander noodvoorraad moes met lugmaghelikopters ingevlieg word.
My droom om ’n loods te word, sal maar net ’n droom bly.
Eerstens dink ek nie iemand met my swaarlywigheid sal ’n vlieënier of selfs ’n passasier in ’n ligte vliegtuig kan wees nie. Dan is die uitgawe ver bo my vuurmaakplek.
Net die kursus alleen is seker derduisende rande. En ek verbeel my ’n mens moet goed wees in wiskunde om onder meer roetes te beplan en brandstofvoorraad te beheer.
Met my gebrekkige kennis van sommetjies maak sal ek seker in Koekenaap eindig, in plaas van Kaapstad.
Die koste om ’n vliegtuig te besit of huur, beloop seker ’n aardige bedrag. Dit is die grootste struikelblok.
Maar droom kan ’n mens seker maar droom?
Worcester se feesliggies word Vrydag aangeskakel. Kan jy dink hoe prentjiemooi dit moet wees om laataand die liggies deur ’n vliegtuig se venster te aanskou?
Toe ons kinders nog klein was, was die besigtiging van die Kersliggies een van die groot vreugdes in die aanloop tot die feestyd. Nodeloos om te verduidelik, was dit uiteraard per motor.
Ons het jaar na jaar die flikkerende en flitsende ligte in die middedorp besigtig en daarna deur verskeie woonbuurte gery om te kyk na die huise wat feestelik getooi was; elkeen met ’n draairoomys van Pardon Kafee en later jare van die groot M in die hand.
By elke huis is ’n rukkie vertoef om die skouspel te geniet. Die afgelope paar jaar was egter min huise ten volle opgemaak. Die koste is seker net te erg.
Ter afsluiting, baie dankie aan almal wat vanjaar insette en kommentaar gelewer het. Jul terugvoering, wenke en idees word altyd waardeer.
Mag jy en jou gesin ’n Geseënde Kersfees en ’n wonderlike Nuwejaar geniet. Mag die seëninge oorvloedig en die beurtkrag min wees waar jy jou ook al oor die feestyd bevind.
Hou maar die kerse, blakers en vuurhoutjies byderhand!





