MultiChoice, die hoof van DStv, het Dinsdag onlangs ’n verklaring uitgereik wat talle kykers onthuts gelaat het.
Dié groep het gesê hy bring die veranderinge aan as deel van sy voortdurende ontwikkeling en transformasie van inhoud en vermaak.
Die verklaring, wat uitgereik is deur MultiChoice-hoof Imtiaz Patel, lui as volg:
“As deel van ons voortdurende pogings om ons inhoud te verfris en die reeks kanale wat aangebied word, te optimaliseer, sal die MultiChoice-groep afskeid neem van die History-, Crime + Investigation- en Lifetime-kanaal op sy DStv-platform aan die einde van die huidige kontrakperiode. Die huidige kontrak verstryk 1 November 2019.”
Suid-Afrikaners het hulle tot sosiale media gewend om die saak heelhartig te bespreek.
“Dit is sommer bog. Hoe kan ons so duur vir kanale betaal en dan word drie kanale sommer net so weggevat? Dit is my en my gesin se gunstelingkanale, ons betaal deur ons nekke vir die diens en dan kry ons sulke ongewensde verrassings” skryf Linda du Preez, ’n Worcesteriet, wat kommentaar op DStv se Facebook-blad gelewer het.
MultiChoice noem verder in sy verklaring dat die besluit geneem is om afstand te doen van hierdie kanale omdat dit te duur is om te huur. Die groep wil fokus op goeie gehaltevermaak wat plaaslik vervaardig word en die beeld en identiteit van Suid-Afrikaners bevorder.
Daar sal binnekort nuus uitgereik word oor twee nuwe kanale wat bygevoeg sal word.
Ander nuus wat Dinsdag 2 Oktober opslae gemaak het, is dat die groep ook aan van sy pakkette geskaaf het en die besluit geneem het om kykNET, die premium Afrikaans-kanaal, slegs beskikbaar te stel op die Premium-pakket en nie op ander goedkoper pakkette nie. Dit beteken dat kykNET slegs beskikbaar is op die R899-pakket en nie meer op die R399- of R550-pakket soos voorheen nie.
“Ek is diep geskok oor DStv se besluit. ’n Mens kan nie die duurste pakket bekostig nie en wil graag Afrikaanse kykstof hê. Nou is dit net onbereikbaar en onbekostigbaar,” skryf Mara Steyn op DStv se blad.
Standard het gaan uitvind by lesers oor hoe hulle deesdae televisievermaak verkies en wat hulle mening rakende die verandering is.
’n Vraelys met verskeie opsies is op Facebook geplaas en bykans 400 inwoners het hul mening gedeel oor die verandering en hoe hulle verkies om na hul gunstelingprogramme te kyk.
Die opsies was: 1. Kyk en gebruik DStv; 2. Kyk SABC; 3. Gebruik stroomdienste soos Netflix of 4. Ander. In hierdie peiling was dit duidelik dat DStv steeds ’n gunsteling onder Worcesteriete is en dat stromingdienste nog nie so vlamgevat het soos in ander dele van die land nie.
Sidney Arendse van Worcester is van mening dat DStv ’n geval is waar jy moet betaal, anders gaan jy goed misloop. “Ek het geen probleem met DStv nie. Ek geniet my sport en die programme wat te bied is op VIA. Ek kan letterlik enige sportgebeurtenis in die wêreld kyk.”
Dirk Hoestra verkies om geen televisie te kyk nie. “Ek het amper drie jaar gelede my DStv gekanselleer. Ek kyk ook nie Netflix of Showmax nie, want ek het nie onbeperkte internetkonneksie nie,” skryf hy.
Die 392 respondente se inligting is in die grafika saamgevat




