Vroeë aanduidings toon dat jong mense die meerderheid van aansoekers uitmaak wat sedert gister, Saterdag 20 Junie, by kiesersregistrasiestasies regoor provinsies in die ry gestaan het om vir die komende munisipale verkiesing op 4 November te registreer.
Onder die jonges, was twee vriendinne van Worcester wat vroeër vanjaar hul 18de verjaardag gevier het, en Sondag (21 Junie) vir die eerste keer geregistreer het om in die komende verkiesing te kan stem.
Celina Golding wat op 9 April vanjaar 18 geword het, sê dit was vir haar ‘n baie spesiale geleentheid toe sy vir die eerste keer geregistreer het om te kan stem.
“Ek het al gehoor mense sê hulle gaan nie stem nie omdat hul stem in elk geval nie ‘n verskil gaan maak nie.
“Dis waar hulle verkeerd is, want elkeen se stem maak ‘n verskil. As jy nie stem nie, kan jy nie kla oor die regering nie.
“Jy het ‘n keuse gehad om te registreer om te kan stem.”
Volgens Golding is dit goed om te weet dat haar stem in die komende verkiesing deel gaan wees van duisende ander wat gaan help om ‘n verskil in die land te maak.
Chloé Claassen het op 19 Maart vanjaar haar 18de verjaardag gevier.
“Ek het vandag (21 Junie) kom registreer om in die verkiesing te kan stem, want dit is belangrik vir ons jeug om ook ‘n sê te hê in hoe hul dorp en distrik bestuur behoort te word.”
Sy sê die registrasieproses was vir haar baie opwindend.
Die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) het intussen in ‘n persverklaring gesê die kiesersregistrasienaweek het met ‘n sterk opkoms begin nadat meer as 330 000 aansoeke teen middag op Saterdag (20 Junie) verwerk is. Die OVK het Sondag gesê finale getalle behoort teen Maandagmiddag bekend te wees.





