Die eens bekende woning van Johannes Jacobs by Russellstraat 64. Regs is die patriarg van Russellstraat, Jacobus Johannes Jacobs.Foto:


Baie min mense sal weet dat die ontslape bekende rolprentman van Suid-Afrika, Jamie Uys, se wortels in Worcester gesetel lê – en dit in Russellstraat, om presies te wees.

Wanneer ’n mens aan Russellstraat dink, sal hierdie straat altyd aan die bekende Jacobs-familie verbind wees, wat vir vier geslagte in hierdie straat gebly het.

By Russellstraat 64 (op die hoek van Russell- en Stockenströmstraat) is die ou historiese Jacobshuis – een van Russellstraat se mees geskiedkundige geboue. Jacobus Johannes (“Jacobus”) Jacobs (1836 – 1921) is op Harmonie in Brandwacht gebore, waar sy pa, Petrus, ’n wamakery op die oewer van die Hartebeesrivier, langs die grootpad tussen Tulbagh en Worcester, bedryf het. Dit is die eerste wamakery as jy uit Worcester ry en die laaste wamakery voordat jy Worcester ingekom het.

Thomas Tennant Heatlie het Jacobus Jacobs omstreeks 1870 gekry om sy historiese L-vormige huis op Glen Heatlie na ’n U-vormige woning te verander en as deel van die vergoeding, het hy ’n lening van £1 100 aan Jacobus toegestaan om die hele hoek van Russell- en Stockenströmstraat te koop.

Jacobus moes hierdie lening terugbetaal en hy was ’n vernuftige man, wat letterlik en figuurlik baie ysters in die vuur gehad het: Hy was ’n kuiper, ’n meubelmaker, ’n naafdraaier (van wawiele), ’n transportryer, ’n volstruisboer by Kleinplasie, ’n wamaker asook ’n regeringskontrakteur, verhuurder van sy eiendomme as fotografie-ateljee, tuiskamers en winkels, en uiteindelik ook ’n belegger. Hy het van sy geld in die destydse Worcester Gold Mining and Exploration Company van Johannesburg belê, wat 300% wins opgelewer het.

Hierdie opbrengs het hom in staat gestel om ’n draaibank met perdekrag – wat deur ’n Fucks-bakkiespomprat aangedryf is – aan te skaf. Gevolglik was sy wamakery op daardie hoek teen die 1890’s die mees gevorderde in Worcester.

Jacobs was getroud met Helena Catharina (Viljoen) Jacobs (1843-1928) van Doornrivier en sy het ook behoorlik haar kant gebring, want in Russelstraat 63 is op massiewe skaal kos gemaak.

Om hul inkomste verder aan te vul, het Jacobus die kontrak gekry om al die gevangenes in die Worcester-tronk (wat destyds by die Russell- en Somersetstraat-aansluiting gestaan het) te voorsien.

Om sy inkomste verder aan te vul, het Jacobus die boonste verdieping spesiaal so ingerig en laat verander, sodat hy hierdie ruim deel dan as ’n ekstra inkomste aan fotograwe as ’n ateljee kon verhuur. Dus was Russellstraat 63 Worcester se eerste fotografie-ateljee.

Die kuns van fotografie en die gepaardgaande negatiewe en maak van rolprente was natuurlik vir die Jacobs-seuns en kleinkinders almal baie interessant en vir almal in daardie stadium was hierdie tegnologie nog baie ongewoon.

Kort voor Jacobus Jacobs se afsterwe op 23 Augustus 1921 het hy vir sy kinders ’n “magic lantern” – soos wat in daardie stadium na ’n filmprojektor verwys was – as Kersgeskenk vir daardie jaar gekoop, sodat hy vir hulle rolprente in “home cinema”-formaat kon wys.

Jacobus en Helena Jacobs het 12 kinders gehad. Een hiervan is na sy oupa genoem, maar het bekend gestaan as Jamie Uys, (1921-1996), wat die befaamde rolprentmaker geword het.

As kind het Jamie en sy gesin Worcester gereeld besoek en hy en sy sibbe het hul oupa se “magic lantern” gebruik om rolprente teen mure te projekteer.

Sy grootste en bekendste rolprent was natuurlik The Gods Must Be Crazy.. Die skrywer van hierdie arikel, raadslid Julian Kritzinger, is die Burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur van die Breedevallei-munisipaliteit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article