“My pen was die enigste maatjie wat ek gehad het om mee te ‘praat’.”
Só sê Jadrick Pedro-Koopman (24) van Ceres wat sy debuutdigbundel, On-getiteld, Saterdag 30 Maart bekend stel.
“Ek is baie opgewonde. Dit is ’n selfpublikasie en dit was glad nie ’n maklike proses nie, maar ek sien uit na die bekendstelling,” sê Jadrick.
Volgens Jadrick, wat by Northridge Primêr werk en die medestigter is van Swag, ’n organisasie wat bewustheid oor opvoeding by plaasgemeenskappe skep, was skryf maar soos ’n hanteringsmeganisme vir hom.
“Ek het in Ceres grootgeword en nie ’n maklike lewe gehad nie. My ma is oorlede toe ek ses was en my pa was nie eintlik betrokke nie. Die
res van my kinderjare moes ek maniere vind om te oorleef by familie en pleegsorg huise,” onthou Jadrick.
Hy sê die eensaamheid wat hy destyds ervaar het, het hom gedryf na die enigste uitlaatklep wat nog al die jare vir hom gewerk het – skryf.
“Skryf is nie in my familie nie. Ek het ook geen formele opleiding in skryf nie. Dis maar ’n vaardigheid wat ek self aangeleer het. Hoe meer ek dit beoefen het, hoe meer het ek ontwikkel en beter geword,” sê hy.
Volgens Jadrick is sy skryfstyl baie eenvoudig, want hy skryf vir die gewone mens.
“Ek skryf vir my bure, die gewone mens,” beklemtoon hy.
“Die boodskap wat ek graag met my skryfwerk wil oordra, is dat mense dit moet lees om my beter te leer ken – voordat hulle oordeel,” voeg hy by.
Hy sê skrywers en digters soos Diana Ferrus, Adam Small en Ghaireya Fredricks spoor hom aan.
“Alles om my inspireer my, hoewel ek ná twee jaar weer begin skryf het danksy my lewensmaat, Joslin Pedro-Koopman. Hy is die rede hoekom ek weer my pen opgetel en begin skryf het, want ek het weer rede gehad om te skryf,” sê hy verder.
Jadrick sê navorsing bly maar een van sy grootste uitdagings.
“Skryf en selfpublikasie is harde werk. Ek het nie altyd die hulpbronne tot my beskikking nie, maar dit is die moeite werd,” voeg hy by.
.
Die bekendstelling van On-getiteld word Saterdag 30 Maart by Trichardtstraat 3, Ceres, gehou. Die verrigtinge begin 14:30.
.
Die bekendstelling van On-getiteld word Saterdag 30 Maart by Trichardtstraat 3, Ceres, gehou. Die verrigtinge begin 14:30.
Vir meer inligting kontak Jadrick by jadrickpedro209@gmail.com.




