Die Ceres-inwoner en oudonderwyser, Elbey “Joy” van Rensburg, se boek, Elbey se genadepad, is verlede naweek by ’n intieme geleentheid in Ceres bekend gestel.Foto: JP Myburg


“My pad is een van genade en een wat ek wil gebruik om vir ander te wys dat hulle enigiets kan bereik deur harde werk en danksy die Here se genade.”

Dit is die boodskap wat die 65-jarige Elbey “Joy” van Rensburg wil oordra met haar inspirerende lewensverhaal.

Van Rensburg het sowat twee jaar gelede haar lewensverhaal begin neerpen en uiteindelik verlede jaar die laaste hoofstuk geskryf.

Nou is dié boek, Elbey se genadepad, geproeflees, gedruk en gereed om ’n boodskap van hoop aan ander te verkondig.

“Ek het nie ’n maklike kinderlewe gehad nie, maar ek het wonderlike ouers gehad. Dit het opgemaak vir baie,” vertel van Rensburg aan Standard.

Sy is die afgelope bykans drie dekades ’n Ceresiet, maar het haar grootwordjare in Touwsrivier deurgebring.

“My pa, Dickson Jonas, was van Malawi en my ma, Violet, ’n Bolander. Hulle het op ’n dag, nadat my pa vir sy lewe uit Malawi gevlug het, in Touwsrivier ontmoet. Dit was liefde met die eerste oogopslag. My ouers was my alles. My pa was my grootste ondersteuner en my ma was net altyd daar vir ons vyf kinders.”

Daar was ingevolge apartheidswetgewing nie ’n skool wat sy in Touwsrivier mag bygewoon het nie, maar sy wou graag leer.

Op ’n dag het sy en ’n vriendin ’n beursie in die straat opgetel en dadelik ’n plan gemaak om dit by die eienaar uit te kry.

“Dit was heel per toeval, maar ek kon die vrou dieselfde dag nog opspoor. Toe ek haar op die straathoek sien staan en gesels met ’n vrou wat my familie geken het, het ek dadelik die beursie aan haar terugbesorg. Sy het my bedank en vir my gevra waarom ek nie skoolgaan nie. Daardie interaksie het my hele lewe verander,” voeg sy by.

Die vrou, wat ook ’n opvoeder in die Matroosberg-streek was, het vir van Rensburg ’n daaglikse saamrygeleentheid aangebied en haar ook gehelp om by die skool in te skryf. So het haar skooldae begin.

“Ek moes toe in ’n stadium per trein elke dag na Matroosberg reis, toe die vrou nie meer ’n geleentheid kon bied nie. My pa het my elke oggend moed ingepraat en my laat glo dat ek enigiets kan bereik. Ek het my skoolloopbaan later in Ceres voltooi en is daarna Kaapstad toe om my onderwyskwalifikasie te kry.”

Daarna het Van Rensburg omtrent die Boland verken en ook in die Koo-distrik as onderwyser gewerk. Sy het ’n man ontmoet en hulle het ’n dogter in die lewe gebring. Die verhouding het ongelukkig ’n paar jaar later tot ’n einde gekom.

“Dit was ’n hartseer dag, maar ek moes uit die huwelik tree. Ek was baie ontsteld en die skoolhoof by wie ek werksaam was in daardie stadium het my getroos en my laat besef dat dit nie my skuld was nie. Ek het vir die eerste keer weer menswaardig gevoel. Ek het daaruit ook geleer dat geen vrou ’n man aan haar sy nodig het om waardig te voel nie. Ons kan enigiets bereik wat ons wil.”

Daarna het Van Rensburg weer in Ceres beland en jare lank as onderwyser gewerk totdat sy in 2018 afgetree het.

Sy het ook toe haar ma aan die dood afgestaan, dit nadat haar pa in die vroeë jare 2000 oorlede is.

“Hul dood het my diep geraak. Veral my pa s’n. Ek kon bykans twee jaar lank nie werk nie. Ek was verpletter. Deur die Here se genade kon ek weer opstaan – en ek het. Dit is waaroor hierdie boek handel.

“Dit is my boodskap,” voeg Van Rensburg by.

Sy het op Saterdag 6 Mei ’n intieme boekbekendstelling gehou by die Togryersmuseum in Ceres en haar lewensverhaal met die gaste gedeel. Sy wil ander inspireer om ook hul weg te vind en om nooit moed te verloor nie.

. Van Rensburg se boek, Elbey se genadepad, is te koop teen slegs R150. Vir navrae of bestellings, skakel gerus 063 693 0989 of 072 698 0797.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article