Wynand Breedt saam met sy grootste ondersteuners. Van links is Christelle Human, John Sinclair (lewensmaat), Beulah Breedt (ma), Wynand en Riaan Steyn (uitgewer.). Foto: Brümilda Swartbooi

Credit: SYSTEM

Wynand Breedt (43) sê hy sing om ander te inspireer.

Wynand het Saterdagaand (17 No­vem­ber) sy tweede CD, Nes Jy Is, by Kleinteater in Worcester bekendgestel.

Die gehoor het ’n eksklusiewe verto­ning van sy 13 liedjies op die CD geniet. Hy sê sy tweede album lê na aan sy hart en hoop om iemand te inspireer. “In my tweede album praat ek uit my hart uit. Die les wat mense uit die lirieke moet neem, is om te aanvaar wie hulle is. Jy’s amazing nes jy is en moet nooit vir enige persoon verander nie,” voeg hy by.

Wynand sing al van die ouderdom van agt jaar af en sê sy liefde vir sang het hy by sy ma geërf. “My ma sing pragtig. Ons het saam gesing in kore en by troues, ek het met ’n klavier in die huis grootgeword.”

Hy beskryf sy musiekgenre as klassiek met ’n bietjie pop en rock. Nes Jy Is is oor ’n tydperk van tien maande saamgestel. Die CD bestaan uit liedjies oor ’n nasie, menswees, liefde en twee sentimentele liedjies wat Wynand spesiaal aan sy ma en sy lewensmaat opdra.

As hy nie sing nie werk hy as ’n olyfboer. Hy sê met sy sangloopbaan wil hy net ’n verskil maak. “Ek doen dit nie vir die geld of roem nie, ek wil net ’n verskil maak. Ek doen dit vir die liefde.”

“Dankie aan elke persoon wat ’n verskil in my lewe maak. Elke mens is anders en elkeen is uniek.”

Mense wat graag ’n kopie van Nes Jy Is wil koop, is welkom om vir Wynand by 071 894 1514 te bel of sy webwerf wynand@wynandbreedt.co.za te besoek.

Wynand Breedt saam met sy grootste ondersteuners. Van links is Christelle Human, John Sinclair (lewensmaat), Beulah Breedt (ma), Wynand en Riaan Steyn (uitgewer.). Foto: Brümilda Swartbooi

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article