Nie-noodsaaklike dienste by staatshopitale soos Worcester-hospitaal gaan weer herprioritiseer word noudat die vierde Covid-golf verby is.


Noudat die Wes-Kaap uiteindelik oor die vierde golf van Covid-infeksies is, sal normale mediese prosedures weer by provinsiale hospitale vooropgestel kan word.

Nadat die premier, Alan Winde, vroeër die maand aangekondig het dat die Wes-Kaap amptelik deur die vierde golf van Covid-infeksies is, sal provinsiale hospitale weer met die proses begin om dienste na nie-Covid-afdelings te eskaleer.

Om elke vorige golf van die pandemie teen te staan, het gesondheidsorgdienste hulpbronne soos personeel en toerusting hertoegewys om die beste sorg moontlik aan Covid-19-pasiënte te bied.

“Ek is bewus daarvan dat dié hulpbronbestuur van dienste dikwels gelei het tot beperkte toegang tot nie-Covid-gesondheidsorghulpbronne. Dit is ’n noodsaaklike protokol wat deur staatshospitale reg oor die land heen geïmplementeer is om genoeg vermoë vir Covid-pasiënte tydens elke vlaag te verseker. Hierdie de-eskalasie van hulpbronne het gelei tot die agterstand in roetine-operasies in elke provinsie, nie net die Wes-Kaap nie,” sê Wendy Kaizer-Philander, lid van die Wes-Kaapse wetgewer en DA-woordvoerder vir gesondheid.

Sy sê voorts dit is noodsaaklik dat die hereskalasie van dié dienste vlot verloop en die gevolglike agterstand aangespreek word.

“Ek het dus vrae ingedien om vas te stel wat die tydraamwerk vir hereskalasie is, asook die aantal roetine-operasies wat voltooi moet word. Ek het ook gevra oor die hervatting van nie-chirurgiese behandelings vir chroniese siektes soos TB en diabetes.”

Die departement sê ten spyte daarvan dat Covid-infeksies tans minder as 600 gevalle per dag is en die pandemie ’n “endemiese” status bereik het, is dit noodsaaklik dat inwoners voortgaan om ingeënt te word terwyl hulle die gevestigde Covid-protokol toepas om die verspreiding van die siekte te voorkom.

“Ons het tydens die vierde golf gesien hoe die entstof gehelp het om ons gesondheidsorgdienste en personeel te beskerm, aangesien daar ’n skerp afname was in die aantal hospitaalopnames tussen die laaste golf en die vorige een.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article