’n Gestremde slagoffer wat net meer as drie jaar gelede in ’n wingerd verkrag is, kon ’n sug van verligting slaak toe haar verkragter 15 jaar tronkstraf opgelê is.

Godfrey May het skuld beken en is op 15 Februarie in die streekhof in Worcester gevonnis.

Die saak het gespruit uit ’n voorval op 27 Januarie 2019 op die plaas Mon Don in die Ashton-distrik. May het die 20-jarige slagoffer na ’n wingerd gelok en haar daar verkrag.

Luidens getuienis voor die hof is die slagoffer verstandelik gestrem, wat haar kognitiewe besluitnemings­vermoë negatief beïnvloed. Dié getuienis is in die beskuldigde se pleitver­duideliking aan die hof voorgehou.

Tydens die voorval het die slagoffer om hulp geskree, wat ’n verbyganger genoop het om haar te hulp te snel. May het toe op die vlug geslaan en is later deur die polisie in hegtenis geneem.

Vonnisoplegging

Landdros Clifton Maseti het in die vonnisoplegging genoem dat die beskuldigde se skulderkenning die slagoffer gespaar het van verdere sekondêre trauma wat getuienislewering moontlik teweeg kon bring.

Die NVG het die vonnis verwelkom en ’n woordvoerder sê mense moet kennis neem dat diegene wat as verstandelik gestremde persone geag word, ingevolge die Wet op Seksuele Misdrywe nie toestemming kan gee tot geslagsgemeenskap nie.

Daarom sal iemand wat dit doen van die misdryf van verkragting aangekla word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article