Gift of the Givers het die afgelope naweek na Touwsrivier opgeruk om die gemeenskap op mediese gebied by te staan.
Die organisasie Compassionate Hearts het aan Gift of the Givers ’n brief gerig waarin hulle die gesondheidskwessies uitlig in dié dorp, wat onder grootskaalse werkloosheid gebuk gaan.
In die brief het Rashaad Baker, stigterslid van Compassionate Hearts, aan Gift of the Givers gesê Touwsrivier word van Maandag tot Vrydag deur slegs een plaaslike kliniek bedien.
Die kliniek het geen permanente dokter nie en een kom twee maal per week van Worcester af om chroniese pasiënte te sien.
“Dit neem tot drie maande om ’n afspraak by die dokter te kry. As jy oor ’n naweek siek word, moet jy gebruik maak van die ambulansdiens, waarvan die reaksietyd drie tot vyf uur kan wees. Sodra jy by die hospitaal aankom, moet jy nog drie tot vyf uur wag net om jou waarnemings te laat doen.”
Volgens Baker bestaan tandheelkundige dienste, fisioterapie en ander dienste feitlik glad nie in die dorp nie.
Gift of the Givers het in ’n verklaring op Facebook aangekondig dat hy besluit het om op 19 Februarie ’n multi-dissiplinêre mediese span na Touwsrivier te ontplooi om die gesondheidstatus van die hele dorp te bepaal.
“Die boodskap is reeds uit, en alle aanduidings dui daarop dat die gemeenskap in hul honderde vir hierdie assessering en bestuur gaan opdaag. Ons het oproepe van gemeenskappe in Laingsburg en De Doorns ontvang om toestemming te vra om die “mediese kamp” by te woon,” het die verklaring gelui.
“Austell Pharmaceuticals borg die medikasie, Europcar verskaf vier busse om die mediese span te vervoer, Coca-Cola Peninsula Beverages verskaf water, en FamousBrands verskaf versnaperinge vir die span.”
Compassionate Hearts sê die volgende dienste is gratis vir die gemeenskap aangebied: tandheelkunde, oogtoetse, dokters, fisioterapie en ’n dieetkundige.


